Kykers van die werklikheidsreeks, Wat dit Vat met musiekvervaardiger en kitaarghoeroe Loki Rothman, het haar as ’n enkelma met ’n skattige baba leer ken. Maar dis haar suiwer stem en sagte geaardheid wat harte en ore gewen het.
Michelle Mountjoy is vroeër dié jaar as wenner aangewys in hierdie kykNET-werklikheidsreeks waar deelnemers vir byna vier maande ’n eksperiment uitgevoer waar allerdaagse mense omskep word in supersterre.
Nou is haar tweede enkelsnit Porselein Mossies op digitale stroomdienste beskikbaar!
“Ek is verskriklik opgewonde vir dit wat voorlê. Ek het die voorreg gehad om by Sunset Studios my nuwe enkelsnit te record en is tans besig om reg te maak om motivering praatjes te hê by meisies skole oor mishandeling en waar hulle help kan kry. Dit is net die Here wat my so vêr gebring het, en ek glo vas Hy gaan my nog op ’n baie lang journey vat waar ek my musiek en storie met ander kan deel en dalk intussen, ’n lewe verander. Let’s do this!”
Porselein Mossies gaan oor die klein wit “mossies” wat op die telefoon lyne sit, en as jy mooi daaraan dink, luister hulle na al ons gesprekke wat ons met mekaar het. Wat hoor die mossies nie alles nie…
- Hierdie snit is nou beskikbaar op alle digitale platforms.
