Stafan Jansen stel kortspeler in die AfriForum Teater vry

FOTO: OkayDeer

Die sanger en liedjieskrywer, Stefan Jansen, het Donderdag aand vier nuwe enkelsnitte bekend gestel tydens sy vertoning by die AfriForum teater in Pretoria. Stefan het groot sukses met sy enkelsnit, Suikerbos, geniet en het dit opgevolg met sy lied, As Ek Jou Onthou, maar hierdie geleentheid het hy as ’n groot mylpaal in sy loopbaan beskryf. 

“Dit was my heel eerste teater show wat net uit my eie oorspronklike musiek bestaan het,’’ het Stefan gedeel.

Die vertoning is geopen deur The Stinging Rogers wat akoestiese weergawes van hulle liedjies Kansas City, Restless en One By One gespeel het. Hulle het ook die gehoor verras met twee nuwe Afrikaanse Liedjies getiteld; Onskuld van ’n Kind en Perspektief.

Met die gehoor goed opgewarm het Stefan hulle vir ’n uur en ’n half lank in die palm van sy hand gehou en elke persoon op ’n reis gevul met oorspronklikke musiek en staaltjies geneem.

Hierdie was ’n oomblik waaroor die 33-jarige musikant al sedert Hoërskool gedroom het. Stefan het in Standerd agt begin kitaar speel en het toe al gedroom van ’n loopbaan in musiek. Die geleentheid het eers in later jare realiseer maar Stefan vertel hoe hy voltyds agter-die-skerms gewerk het om hierdie droom te bewaarheid.

Stefan het toe besluit om na skool regte te studeer en het homself binne ’n suksesvolle loopbaan as ’n Prokureur, en toe ’n Spesialis Makelaar gevestig. ’n Huisbraak het egter alles verander. “Hulle het by my huis ingebreek en ’n baie duur ‘amp’ gesteel en toe die versekering uitbetaal het, het iets in my kop gekliek. Ek het besef dat ek sonder baie dinge in my lewe kon klaar kom. As ek my lewenskostes kon sny en my kar verkoop, sou ek met ’n minimale inkomste kon uitkom en ek sou my droom kon volg,’’ deel Stefan laggend.

Stefan het voltyds begin musiek maak en het kitare begin bou vir ekstra inkomste. Hy het reeds begin liedjies skryf, maar het meestal in ‘coverbands’ gesing. Die bas-kitaar speler in een van die bands was Tertius Human, ’n gerekende musiekvervaardiger in die Afrikaanse bedryf. Tertius het vir Stefan studio toe genooi en hulle het ’n paar van sy liedjies opgeneem. 

“Dit het goed geklink, maar dit het goed geklink omdat dit goed vervaardig was en ek het besef dat ek sou moes skaaf aan my skryfstyl,’’ vertel Stefan. Hy het sy lirieke begin slyp en die gevolg was Suikerbos. Tertius het dit ook opgeneem en dit aan Vonk Musiek se Kobie Koen voogelê. Koen het vir Stefan ’n platekontrak aangebied en hy het verder in die studio begin werkskaf.

Stefan beskryf die vertoning by die AfriForum teater as ’n samestelling van sy eerlikste werk tot op hede. Sy nuwe enkelsnitte wat hy bekend gestel het sluit in Katryn, Janie, Lankal Gereed en Blind Induik En Bid.

Stefan het elkeen van die liedjies opreg geskryf oor sake wat hom na aan die hart lê.  Lankal Gereed handel oor die vrees wat hy mee gestoei het om ’n loopbaan in musiek aan te pak het. Hy was lankal gereed, maar het tyd gemors omdat hy bang was. In hierdie lied deel hy dat jy moet hard werk aan jou drome en elke geleentheid moet aangryp. 

Blind Induik En Bid is ’n liedjie wat hy geskryf het omdat hy geneigd is om makllik verlief te raak en keer op keer sy kop stamp omdat hy blindelings in ’n ding induik.  “Ek is ’n hopelose romantikus,’’ lag Stefan, “en soms sien jy net wat jy wil sien wanneer jy verlief is.”

Janie is ’n lied wat Stefan vir sy fiktiewe buurvrou geskryf het. In die lied vra hy vir Janie “Waarheen gaan al die bure?’’ die lied handel oor die mense wat die land verlaat met die wete dat hulle iets van hulself hier moet agterlaat.  Stefan het al baie oorsee gereis en beskryf Suid-Afrika, met al sy probleme, as ’n juweel en die enigste plek waar hy voel hy behoort.

Katryn is ’n lied met ’n diep persoonlike betekenis vir Stefan en word opgedra aan sy suster. “Dis ’n gesprek wat my al meer as tien jaar lank geneem het om te begin,’’ vertel Stefan. Stefan se sussie het net na skool ’n groot mediese terugslag tydens ’n operasie beleef en hy het nie geweet hoe om dit te verwerk nie. Met hierdie lied verbreek hy ’n jare lange stilte en vertel hy van die krag wat die kleinste en fynste een in die gesin het. 

Stefan het gedeel dat hy dankbaar is dat die geleentheid om sy musiek te deel nou gekom het. “Dit het gebeur in ’n tyd waar my musiek gereed was om gedeel te word. Dit was nie ’n makilike pad nie, maar nou kyk ek net vorentoe.’’

Stefan sluit sy vertoning in die AfriForum Teater af deur ’n tiendae lange toer in Clarens af te skop. Verder beplan hy ’n Europese toer in Junie en Julie en beoog om sy eerste vollengte album in vroeg 2023 vry te stel.