Posduif stel nuwe enkelsnit bekend; deel opwindende nuus

FOTO: Verskaf

Die gewilde groep, Posduif, se sewende enkelsnit – Spinnekop – is pas vrygestel en luisteraars is in vervoering!  

Hierdie treffer, uit die pen van James Boland en Nick Jordaan, is ’n prettige pop-rocksnit oor ’n pragtige meisie uit die Vrystaat. “Almal is verlief op haar, maar sy is onbereikbaar,” verduidelik Boland. “Sy maak die reëls, ongeag van hoe hard die ouens probeer om haar guns te wen.”

Spinnekop is nie net vir die groep lekker om te doen by vertonings nie, maar is ook ’n opgewekte liedjie wat eie is aan die styl waarvoor hulle bekend is. “Die enkelsnit vang die klank van die groep perfek vas en trek die gehoor in. ’n Man sal mos enigiets probeer om die meisie se aandag te trek van wie hy hou! Meisies vind natuurlik ook aanklank by die lied, omdat hulle weet dat hulle in beheer is.”

Die tydsberekening van hierdie vrystelling is baie gepas en kom saam met ’n opwindende aankondiging – Posduif  het pas ’n platekontrak gesluit met Sony en Platinum Musiek.

“Hierdie is ’n ongelooflike mylpaal in ons loopbaan,” sê Boland. “Ons is baie opgewonde om ’n pad te stap met Platinum Musiek se Kosie van Niekerk, ’n legende in die musiekbedryf, asook Ernst en die span by Sony. Met hulle kennis, leiding en ondervinding in die bedryf, gaan Posduif beslis nuwe hoogtes bereik! Ons kan so baie by hulle leer en sien uit na hierdie wonderlike avontuur.”

Van Niekerk is net so opgewonde om met die groep te werk: “Dit is met groot plesier en opgewondenheid wat ek aankondig dat ons ’n platekontrak met Posduif gesluit het. Ek het die voorreg gehad om hulle verskeie kere te sien optree en hulle is ongelooflik talentvol. Ek kan nie wag om saam met hulle te werk nie. Hou dié spasie dop!” 

Verder het hulle ook borgskapooreenkomste met WP Motors en Spier gesluit. “Ons sien uit daarna om saam met Spier en WP Motors te werk. Ons gaan opwindende veldtogte van stapel stuur om aan hierdie handelsmerke unieke blootstelling te gee, terwyl ons besig is om ons musiek te versprei en aan ons eie handelsmerk te bou,” sê Boland.

“Ek en die hele WP Motors-span is baie trots om, as borg, by Posduif betrokke te wees,” sê besturende direkteur Philip van der Merwe. “Die groep is ongelooflik en so ook elke lid op sy eie manier. Die manne gaan ongetwyfeld nog groot hoogtes bereik en ons is opgewonde om ’n pad saam met hulle te stap.”

Spier se CEO, Frans Smit, stem saam: “Dit is ’n plesier en voorreg om saam met talent soos Posduif te werk! Ons het dieselfde waardes en ons is opgewonde om beide handelsmerke te sien groei.”

Posduif het beslis baie om te vier en gaan dit doen met ’n groot vertoning by Weiveld in Pretoria op 23 April 2022. Kaartjies vir dié konsert, wat om 21:30 begin en R100 per kaartjie kos, kan aanlyn bespreek word.

Posduif is in 2018 gestig en het hulle debuut gemaak met die liedjie Brandy Special, wat meer as 400 000 trefslae op sosiale media gehad het. Sedertdien, het hulle verskeie ander treffers vrygestel en is hulle deur Bok Radio benoem as Groep van die Jaar en vir Liedjie van die Jaar.

Die groep bestaan uit Boland (hoofsanger en kitaarspeler), Nick Jordaan (ritmekitaarspeler en sanger), Amiel Gopal (baskitaarspeler), Brendan Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler) en Nick McCreadie op die dromme.

Buiten daarvoor om gereeld op te tree, is die groep ook besig om te werk aan materiaal vir hulle volgende enkelsnitte saam met Platinum en Sony en opwindende projekte saam met hulle borge.

Luister Spinnekop hier: