FOTO: Verskaf
Die Covid-19 pandemie het ’n ongelooflike impak op die samelewing gehad… nie net fisies en finansieel nie, maar ook emosioneel.
Sommige mense se lewens is so omver gegooi deur die situasie dat hulle nie meer ’n uitweg sien nie en dan ’n einde daaraan maak.
Met sy nuwe enkelsnit, Wag Vir Die Antwoord, wil Gideon Stee probeer om vir almal ’n boodskap van hoop bring in moeilike tye.
Volgens dié sanger en liedjieskrywer, was die lirieke van hierdie gospelliedjie ’n boodskap van God. “Daar is soveel pyn in die wêreld en baie verkies om hulle probleme self te hanteer, eerder as om dit in God se hande te plaas,” sê hy. “God het soveel liefde en genade vir ons. My doel is om ’n positiewe boodskap te versprei en sodoende hoop te gee vir diegene wat nie ’n uitweg sien nie.”
Wag Vir Die Antwoord is die tweede geestelike liedjie uit sy eie pen en hy is steeds in verwondering oor die positiewe terugvoer wat sy musiek tot dusver ontvang het.
Hierdie snit spog ook met ’n musiekvideo, wat deur Danie Brough in Pretoria en Johannesburg verfilm is, en eersdaags op die kassie te siene sal wees.
In die video, gesels Gideon se karakter indirek met ’n bekommerde man wat op ’n bankie in die park sit. Hierdie “geselsie” het ’n groot impak op die man se lewe en help hom om sy probleme te oorwin. Die lewensles wat hy graag hiermee wil uitbeeld, is dat God altyd by jou is en dat jy dus nooit alleen is nie.
Gideon is al van kleins af lief daarvoor om mense te vermaak. Nadat daar vir hom, tydens ’n sangkompetisie by ’n vakansieoord, gesê is dat hy nie kan sing nie, was hy vasberade om almal verkeerd te bewys en ’n loopbaan daarvan te maak.
Sy eerste professionele album, Tributes, het in 1995 die lig gesien, waarna agt ander sekulêre albums gevolg het. In 2010, het hy ook aan Supersterre deelgeneem waar hy in die vyfde plek geëindig het.
Deesdae fokus hy hoofsaaklik op die gospelmark. “Nadat ek my lewe volkome vir God gegee het, het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgemaak waarin my hoogtepunte is om te sien hoe mense terugdraai na God toe,” verduidelik hy.
Die sanger meen dat sy sterk stem maklik aanpas by enige genre en dat hy inspirasie put uit ligte klassieke musiek wat hom rustig maak. Hy sonder kunstenaars soos Josh Groban, Eros Ramasoti en Leon Ferreira uit as sy gunstelinge en sal ook nog graag eendag saam met Rudi Claase wou werk.
As hy nie kon sing nie, sou hy graag ’n motiveringspreker wou wees om mense te help om hulle pyn te verwerk. Hy verklap ook dat hy ’n perfeksionis is, wat krities is op homself en sy werk en nie ’n projek sal afteken as hy nie heeltemal tevrede is nie.
Tans werk hy hard aan nuwe musiek en het hy reeds ’n Engelse liedjie in die pyplyn, waarmee hy die internasionale gospelmark wil betree.
Oor die jare, het die musiekbedryf hom geleer om getrou te bly aan wie hy is en om uit sy foute te leer.
Wag Vir Die Antwoord is ’n liedjie wat by oud en jonk sal aanklank vind en die potensiaal het om mense se lewens ten goede te verander.