Elvis Blue verruil sy kitaar vir hamers en spykers!

FOTO: Verskaf

Die sanger en liedjieskrywer Elvis Blue skuif sy kitaar opsy vir hamers en bouplanne! In ’n splinternuwe nuwe VIA-reeks, Elvis B(l)ou, omskep Elvis en sy vrou, Chireze Hoogendyk, ’n 32- sitplekbus in ’n huis-op-wiele. In egte Elvis-styl, is hierdie bus nie net ’n gewone woonwa nie, maar  kry ook ’n verhoog op die dak.  

In dié ses-episode-reeks wat op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word, sien ons hoe Elvis en Chireze die ou bus uitbreek en plek maak vir hul nuwe planne. Die idee vir die “Elbus” het tydens die inperking ontstaan toe die musiekbedryf ’n knou gekry het. Dit was ’n projek wat die Hoogendyks  nog altyd wou doen. “Ek is nie baie handig nie,” bieg Elvis. Sy gesukkel om ’n “portret reguit te hang”  het hom egter nie gekeer nie – hy en sy gesin hou immers baie van DIY-programme. 

Ons kyk of dié getroudes op hulle voete kan dink en probleme op ’n kreatiewe manier kan oplos.  Tussendeur die onverwagse moeilikhede wat gepaard gaan met so ’n projek, is daar ook uitdagings  waarin hy en Chireze teen mekaar moet kompeteer. 

Soos met die meeste opknappings en verbouings is daar ’n paar struikelblokke wat kykers eerstehands op die program sal sien – soos wanneer die bus langs die pad breek, of toe Elvis aan die  bedrading werk en amper die hele projek pootjie. Aanhangers sien ook hoe Elvis sy kode 14-rybewys  moes kry vir dié rondreishuis, en in die finale episode vind die groot onthulling tydens ’n Elvis Blue konsert op die dak plaas. 

Eon Coetzee, die program se regisseur en vervaardiger, meen Elvis en Chireze se humorsin tree sterk  na vore in hierdie reeks. Die uitdagings wat hulle vir mekaar uitdink, is snaaks en maak dat mens  kliphard saamlag. Willie Leeuwner, die doen-dit-self-baas wat ook Elvis Brew help bou het, is ook ’n  heerlike toevoeging tot dié Elbus. ’n Droë humorsin en hy wat vir Chireze en Elvis wys hoe die  gereedskap eintlik werk, sorg vir baie kyker-vermaak. 

Die reeks word in George verfilm op dieselfde eiendom as Elvis se padstal, Elvis Brew. 

“Hoe lekker dat VIA vir kykers die singende Elvis in ’n nuwe hoedanigheid kan wys: dié van DIY kenner! Saam met sy vrou, Chireze, kan kykers sommer sien hoe al die selfdoentrends deesdae lyk,”  sê Azelia Morkel, VIA se kanaalhoof.

Kyk hier na die lokprent: