FOTO: Pierre Rommelaere
Frank Freeman van Eet Kreef Herleef-faam het met ons gesels oor dié produksie wat eersdaags in Stellenbosch en Pretoria te sien is.
Wat kan mense van julle EET KREEF HERLEEF! 2022 vertonings verwag?
Dis in die natuur van hierdie musiek om nooit twee keer in ’n ry dieselfde te klink nie. Dit vorseer ons en die gehoor om in die oomblik te wees. So die produksie bly in die formaat wat dit nog altyd was. Ons speel die album van begin tot einde, met ’n verassing of twee. Jy moet wel weet dat songs soos BMW en Donker Donker Land ons almal na ’n ander plek toe vat elke aand.
Dié vertonings is baie gewild, hoekom dink julle is dit so?
Na ons debuut van hierdie produksie het ons onmiddellik besef dat mense op ’n meer emosionele vlak betrokke is in hierdie musiek as wat mens normaalweg sal ervaar. Dit sit ons as musiekante ’n spreekbuis vir die musiek ook in ’n meer intense spasie. Hierdie kombinasie maak vir ’n eindproduk wat mense se aandag geniet en trek en dit hou van die eerste noot tot die laaste een. Of dis hoe ten minste hoe ek dit ervaar.
Hoe berei julle vir ’n vertoning voor?
Ons repeteer soos enige musiekale produksie, maar die enigste verskil is dat dit nie soos ’n saamgestelde groep van individuele musiekante moet klink nie. Dit moet klink soos ’n band. Ons moet mekaar kan lees. Die musiek vereis dit.
Is daar ’n verskil in hoe gehore reageer in die Kaap en Pretoria en indien, hoe so?
So ver reageer almal dieselfde. Almal is aktief betrokke en aan die luister. Dit is nie rerig die tiepe musiek wat mens in die agtergrond op sit by ’n familie saamtrek nie. Dit vereis jou aandag. Die reaksie wat ons kry van hierdie aandag is nog orals oorweldigend positief. Deur mense wat die oorspronklike album goed ken en by van die Voëlvry shows was, asook mense wat die musiek vir die eerste keer ontdek deur hierdie produksie.
Hoekom het jy vir Laudo Liebenberg as voorsanger gekies vir die projek, wat van hom het vir jou hierby ingepas?
Ek dink nie ek sou hierdie show aangepak het as Laudo nie deel was daarvan nie. Hy was die duidelike keuse vir my. Ons almal weet watter kwaliteit van ’n stem hy het sowel as sy musiekaliteit in geheel, maar hy vorm ook deel van die generasie wat Kerkorrel opgevolg het. Die volgende groep alternatiewe Afrikaners wat die kunste aanpak in hul eie manier. Ek sien myself ook as deel daarvan.
Wat is die lekkerste terugvoer wat julle al oor die EET KREEF HERLEEF! projek gekry het?
Dis moeilik om een uit te sonder, maar as ek nou moet sê was dit ’n vinnige gesprek met Nataniël by die Fiesta-toekennings begin 2020. Hy’t iets gesê soos “julle lyk baie skoner en rook te min boom in vergelyking met die oorspronklike GBB.”
- Eet Kreef Herleef! word op 19 Maart 2022 om 21:00 by die The Daisy Jones Bar in Stellenbosch aangebied.
- En dan word dit op 26 Maart 2022 om 15:00 en 19:00 in die Atterbury Teater in Pretoria aangebied.
- Kaartjies kos R180 per persoon op Quicket of kan by die deur teen R200 gekoop word.