FOTO: Verskaf
Staan Sterk in Afrikaans is ’n Afrikaanse popliedjie uit die pen van Anton Fitchat en Dwayne Griffin en is ook die temaliedjie van die onafhanklike kunstenaarskonsert, Staan Sterk In Afrikaans.
Hierdie fenomenale skrywersspan het agt van die beste onafhanklike kunstenaars in die land gekies om hierdie besonderse lied saam met hulle aan te pak. Elkeen van die kunstenaars wat deel is van hierdie inisiatief, het een ding in gemeen – hulle is trots op hulle taal.
“Staan Sterk in Afrikaans is geskryf om Afrikaans as kultuur te vereer en om ’n gevoel van samesyn te skep onder die Afrikaner-volk. Dit beteken ook dat almal saam moet staan as een nasie, sodat die volgende generasie daaruit kan baat,” verklap die skrywers oor hierdie emosiebelaaide snit. “Mense wat saam staan is sterker as enkele individue en hulle behaal altyd hul doelwitte as hulle mekaar opreg ondersteun.”
Volgens Anton en Dwayne sal die publiek aanklank vind by die lied, omdat daar soveel Afrikaanssprekendes is met die begeerte om hulle taal en kultuur te vereer, elkeen op sy of haar eie unieke manier. “Staan Sterk in Afrikaans word gesien as ’n boodskap van hoop. Dit gaan nie net oor die omstandighede waarin ons onsself tans bevind nie, maar ook oor die waardes waarvolgens ons leef en glo,” sê hulle.
Die agt onafhanklike kunstenaars wat saam met die twee skrywers aan hierdie treffer gewerk het, is Daniel Hoffmann, Alden, Marius D, Mia, Soné Joubert, Lu-Anél van Staden, Zahn en Etha. Hierdie talentvolle groep sangers sal alles in hulle vermoë doen vir die bevordering en die bewaring van Afrikaans.
In 2021 het die Staan Sterk in Afrikaans-konsert vir die eerste keer die lig gesien en in 2022 keer hulle terug, sterker as ooit. Dertig van die land se beste onafhanklike- en opkomende kunstenaars sal die verhoog deel met ’n gesamentlike doel in sig: om te verseker dat Afrikaans nie vergete sal gaan nie.
Kaartjies vir die Staan Sterk in Afrikaans-konsert is nou beskikbaar by Afriforum Teater teen R150 elk. Daar is iets vir oud en jonk, so die hele gesin sal hierdie eg-Afrikaanse vertoning geniet.
- Staan Sterk in Afrikaans word op Vrydag, 11 Maart vrygestel op alle stroomdienste.
- Die konsert word op Saterdag, 19 Maart aangebied.