FOTO: Verskaf
Kranige Binnelanders-kykers het vroeg in Januarie 2022 ’n voorsmaak van dié liedjie gekry en nou is die volledige snit uiteindelik beskikbaar.
Alhoewel dit Germandt Geldenhuys, wat die rol van Louis Koster vir byna ses jaar in Binnelanders vertolk, 32 jaar gevat het om sy eerste oorspronklike, self-geskrewe enkelsnit vry te stel glo hierdie sanger en akteur dat dit eerder te laat as nooit is!
Germandt sing al vandat hy kan onthou en daar is selfs video-bewyse dat hy op die brose ouderdom van vier jaar oud in sy pa se gemeente in Royldene, Kimberley voor mense gestaan en sing het met ’n mikrofoon. “Dit was nog altyd my droom om my eie musiek vry te stel en hierdie hele proses was ongelooflik bevrydend en vervullend,” sê Germandt.
Dit was juis sy betrokkenheid by Binnelanders wat hom aangespoor het om In Geval te skryf. Met ’n onlangse storielyn waar sy karakter ’n “sangloopbaan” wou begin, was die skrywers van dié gewilde reeks op soek na ’n liedjieskrywer wat ’n oorspronklike liedjie kon skryf wat Louis dan in die storielyn kwansuis sou skryf en sing. Germandt bied toe aan om self te probeer en soos hulle sê: the rest is history!
Nadat kykers uiter positief gereageer het op die 30 sekonde segment van die liedjie wat uitgesaai is, het Germandt besluit om dit te voltooi en op te neem as ’n enkelsnit. Saam met Sean Butler, die bekende en talentvolle musiek-vervaardiger, het Germandt toe verder aan die melodie en lirieke geskaaf en die liedjie is begin Februarie 2022 voltooi.
“Ek en Sean het in die spasie van 3 tot 4 ure die melodie geskryf en daarna het ek ongeveer 2 weke aan die lirieke geskaaf. Ek het diep gaan delf omdat ek wou hê die liedjie moet iets wees waarna enige iemand kon luister en aanklank daarby vind.”
In Geval is presies dit: ’n enkelsnit wat spreek tot universele liefde. Vir enige iemand wat al ooit lief was vir iemand anders, vir enige iemand wat al ooit die regte woorde gesoek het om hulle liefde te beskryf, vir enige iemand wat al ooit gesukkel het om die ander persoon te laat verstaan hoe hulle voel. Ouers en kinders, eggenote, broers en susters, vriende en verliefdes – dis nie altyd maklik om te sê hoe ’n mens voel nie, maar dis belangrik dat die ander persoon dit weet, in geval hulle enigsins sou wonder of twyfel.
In Geval is Germandt se eerste enkelsnit en dié liedjie sal hom ongetwyfeld aan die publiek voorstel as ’n kunstenaar om dop te hou.
- In Geval is nou op verskeie digitale stroomdienste beskikbaar.
Luister dit hier op YouTube Music: