Dwayne Griffin is terug met ’n splinternuwe vrystelling

FOTO: Verskaf 

Met die suksesvolle vrystelling van sy debuut-enkelsnit, Soos Die Seisoene, het Dwayne Griffin reeds diep in Afrikaanse musiekharte kom kruip.

Nóú is hierdie twintigjarige jong man van Krugersdorp gereed om gehore nog verder te beïndruk met die tweede enkelsnit uit sy eie pen, Het Jy Geweet.

Dwayne beskryf dié kontemporêre enkelsnit as ’n omgee-liedjie wat daarop neerkom dat wanneer jy regtig vir iemand omgee, jy nie anders kan as om hulle geluk eerste te stel nie… selfs al voel hulle nie dieselfde nie en dit beteken dat jy hom of haar moet laat gaan.

“Hierdie liedjie is deur verskeie mense se persoonlike ervarings, asook ander soortgelyke situasies, geïnspireer en ek het my woorde baie versigtig gekies en nie opgehou ontwikkel aan die lirieke totdat ek tevrede was nie,” vertel hy.

Volgens hom, gaan die publiek beslis aanklank vind by die snit, omdat almal al gemengde gevoelens gehad het oor ’n spesifieke situasie in hulle lewens. “Die doel van die liedjie is om unieke betekenis te hê vir elkeen wat daarna luister, sodat hulle met die boodskap kan vereenselwig.”

Alhoewel hy nou maar twee jaar amptelik in die musiekbedryf doenig is, is hy beslis nie ’n groentjie wanneer dit by musiek kom nie en het al op die ouderdom van twaalf ernstig begin raak oor musiek. Hy het op hoërskool in die koor gesing en gereeld deelgeneem aan verskeie musiekkompetisies en -konserte waarin hy goed presteer het. Hy was ook mede-skrywer van die Staan Sterk in Afrikaans Konsert, wat deur onafhanklike kunstenaars op die been gebring is, se temalied.

Dwayne geniet en sing ’n wye verskeidenheid genres, wat wissel van Country en Rock tot Afrikaans en Pop en sal graag nog eendag saam met Ruhan du Toit en Riana Nel wou werk. Omdat hy baie kreatief is, hou hy ook daarvan om homself deur middel van verskillende mediums uit te druk. Daarom doen hy grafiese ontwerpe in sy vrye tyd wanneer hy nie op die verhoog is nie.

Tans is hy en sy span hard besig om aan sy eerste album te werk, wat hy graag volgende jaar sal wil vrystel. “Dit gaan oorspronklike musiek, asook my weergawes van bekende liedjies, bevat sodat die luisteraars my, as kunstenaar, beter kan leer ken.”

Oor die afgelope twee jaar, het die musiekbedryf hom geleer om gemaklik te wees in sy eie vel en op die verhoog.

Hy was nog altyd vasberade om sy musiek op die radio te hoor en voel bevoorreg om reeds sy tweede enkelsnit onder die knie te hê.

Daar is nog baie wat hy in die toekoms wil bereik en met ’n liedjie soos Het Jy Geweet, is hy beslis op die regte pad om ’n groot sukses van sy musiekloopbaan te maak.

Die enkelsnit is nou beskikbaar op Apple Music, iTunes, Spotify, YouTube, Deezer, Amazon Music en meer.