FOTO: Verskaf
Met haar oorspronklike musiek is Tasché besig om haar eie spasie uit te kerf as die nuwe generasie Afrikaanse rocker. Sy is terug met ’n nuwe liedjie, Pappa Probleme, en jy gaan hom wil hoor.
Vra maar vir haar bekende musiekvriende, onder andere Francois van Coke, Early B, Jack Parow, Jay, Juan Boucher en selfs haar pa, Thys Burger (wat duidelik nie haar pappa probleme is nie). Tasché het video resensies vanaf hulle oor Pappa Probleme op haar sosiale media blaaie gedeel in aanloop na die enkelsnit se vrystelling.
Pappa Probleme is Tasché se mees energieke liedjie tot dusver. Dit is ’n mengsel van rock en punk rock en vertoon haar vokale vermoëns soos nog nooit van te vore nie.
Sy delf diep in haar persoonlike ervarings wanneer sy lirieke skryf.
“Ek hou daarvan om te skryf oor goed waardeur ek self is. Dit maak die liedjie vir my net bietjie meer ‘real’. Dis vir my belangrik om te kan ‘connect’ met ’n liedjie terwyl ek dit sing,” vertel Tasché.
Dit is hierdie konneksie wat haar gehoor sien en voel tydens haar aangrypende vertonings.
Pappa Probleme se skryfproses het ’n katarsiese gevolg gehad wat vir haar vrede gebring het.
Tasché vertel: “Pappa Probleme is geskryf uit ware gebeurtenisse. Deur die proses van skryf het ek vrede gemaak met wat gebeur het en ek hoop dit kan dieselfde doen vir ander. Ek bedoel, dinge gebeur, so ja, ek hoop die liedjie bring daardie ‘alles gaan okay wees, dis nie die einde nie’ gevoel.”
Pappa Probleme se musiekvideo kom 11 Maart uit. Die musiekvideo beeld Tasché se rou energie saam met ’n volle band uit; geweef met tonele van ’n fiktiewe problematiese pa-figuur.
Die sanger en akteur, Laudo Liebenberg, speel die rol van Tasché se nuttelose stiefpa. Haar band vir die musiekvideo bestaan uit musieklegendes, Hunter Kennedy, Wynand Myburgh, Frank Freeman en Sheldon Yoko.
“Die liedjie is hoë energie en ons wou dit visueel so oordra. Ek het nog nooit so baie gespring, ge-‘headbang’ en gesweet nie. Dit was definitief die malste musiekvideo ‘shoot’ nog! Ek is baie dankbaar vir almal wat betrokke was/is,” sê Tasché.
- Pappa Probleme is nou digitaal hier beskikbaar.
KOMPETISIE
Op 18 Februarie was ’n minuut lange voorsmakie van Pappa Probleme op TikTok vrygestel.
Tasché vra haar aanhangers om video’s op TikTok te post met Pappa Probleme as die klank, asook die hashtag #pappaprobleme gebruik. Klik hier vir haar eie verduideliking.
Die video’s kan snaaks, lighartig of ernstig wees, maar moet hulle eie pa’s in hê. Klik hier vir Tasché se eie voorbeeld.
Die wenner wen ’n intieme Zoom kuier en vertoning saam met Tasché, so haar aanhangers van regoor die wêreld kan inskryf.
