FOTO: Verskaf
As die naam bekend lyk, as die stem bekend klink, behoort jy te weet dat Dawie de Jager eintlik al vir 20 jaar in jou huis speel.
Dawie de Jager, die musikant met sy kenmerkende hoedjie, is een van die stigterslede van Klopjag wat in 2002 ontstaan het. Hy is ook die man agter bekende rolprente soos Roepman, Verraaiers, Stroomop en vele meer se klankbane.
Sy solo loopbaan het ’n paar jaar terug begin, nadat hy Bobby van Jaarsveld se aandag getrek het tydens die tweede seisoen van die realiteitsreeks The Voice SA.
Vandag is hy terug met ’n nuwe enkelsnit en musiekvideo, Eendag As Jy Groot Is.
“Ons het almal maar baie vrae oor die lewe en wonder gereeld of ons ooit die regte keuses maak. Daar moet tog ’n dag kom wanneer ons wel alles sal uitvind – Eendag as ons groot is,” het Dawie gesê.
Daar is reeds 20 jaar gelede aan die liedjie begin skryf deur John-Henry Opperman, ook ’n lid van Klopjag. Dié liedjie is nooit opgeneem deur Klopjag nie, en so twee jaar gelede het Dawie en John-Henry weer oor die liedjie gesels en John-Henry het vir Dawie gesê om die liedjie klaar te maak maak. Daar was gelas, geskaaf en geskuur totdat albei tevrede was.
Eendag As Jy Groot Is kom van ’n baie eerlike plek. Dawie glo mense sal hulle maklik kan vereenselwig met die lirieke.
“’n Mens kan ’n liedjie op baie maniere verwerk. Ek dink die musiek ondersteun en dryf die boodskap regtig baie goed,” vetel hy verder.
In die musiekvideo sal jy sien Dawie stap ’n pad na êrens. Daar is ’n skrynwerker en ystersmid wat iets maak en twee klein kindertjies wat ’n tydelike kransie vleg uit blomme.
“Ons het uitgebeeld dat ons almal altyd besig is om iets te probeer maak met ons lewe – niemand van ons weet regtig of jy alles gaan klaar kry voor jy die dag moet groet nie.”
Kyk die musiekvideo hier:
Dawie het geleer dat jy klaar oorspronklik is as jy net jouself probeer wees en dit is wat hy met sy musiek wil oordra.
- Eendag As Jy Groot Is is nou op alle digitale stroomdienste hier beskikbaar.
