Jack Parow kondig nuwe album aan, reik eerste enkelsnit uit

FOTO: André Badenhorst

Dit is Jack Parow se veertigste verjaardag vandag (22/2/22). Om hierdie mylpaal te vier, beplan Parow om op die 22ste van elke maand vir 12 maande lank ’n nuwe enkelsnit uit te sit in aanloop na die vrystelling van sy vollengte album getiteld, Die Evangelie van Goeie Tye, wat op 22 Februarie 2023 uitgereik sal word.

Die eerste enkelsnit vanaf Die Evangelie van Goeie Tye, Demone met Margot, is nou uit.

Kunswerk deur Merwe Marchand le Roux

Psalm 1: ‘Demone’ met Margot:

Verlede jaar het Jack Parow na die Knysna woud gegaan om sy persoonlike demone in die gesig te staar en het sterker as ooit terug gekom.

Jack Parow vertel: “Dit was seker een van die donkerste tye van my lewe, maar ook die ligste. Dit is ’n baie betekenisvolle song vir my en om dit te kon skryf, en so eerlik te wees met myself, in so ’n ‘scary mind space’ was een van die dinge wat my uit daai donkerte uit gekry het en terug na die lig toe. So, dit is baie toepaslik dat dit die eerste single is vanaf my nuwe album, want dit was vir my die begin van ’n proses wat gelei het tot ’n metaforiese hergeboorte in my ‘mind state’ asook in my musiek.”

Margot Rothman is bekend vir haar dekking van Toe vind ek jou op die fliek, Fiela se kind se klankbaan. Haar broer, Loki Rothman, het Demone vervaardig en vervaardig ook van die ander liedjies op die Evangelie van Goeie Tye.

PAROW FEST 3 IS AAN!

Geen ander Suid-Afrikaanse kunstenaars kan spog met hul eie fees in Europa nie, maar Jack Parow het daardie ‘bragging rights’ vir homself gegryp. Parow se gevolg in Nederland is so groot dat dit sy Nederlandse besprekingsagent, Mojo/Live Nation, geïnspireer het om ’n fees vir hom daar te skep getiteld PAROW FEST.

Die eerste PAROW FEST was gehou in November 2017 by TivoliVredenburg in Utrecht met Jitsvinger, Skip&Die (Nederland), De Kraaien (Nederland), Ertebrekers (België), en De Likt (Nederland) wat by Parow op die program aangesluit het. Die fees het uitverkoop en was ’n massiewe sukses wat gelei tot PAROW FEST 2 in 2019.

PAROW FEST 2019 was net so groot. Francois van Coke en Europese kunstenaars, Donnie, De Likt, Fata Boom, Het Gezelschap en Slongs was op hierdie program. Die fees was weer gehou by TivoliVredenburg in Utrecht. En weereens het PAROW FEST uitverkoop!

(Palama Productions het ’n dokumentêr gemaak, ‘From Parow to Parow Fest: The Jack Parow Story’ (2020), en is deels by hierdie fees verfilm. Die dokumentêr speel tans op Showmax en op Nederland se Amazon.)

Weens die sukses van beide PAROW FESTS, het Mojo/Livenation besluit om in 2022 ’n datum in Groningen by te las. Van Pletzen en Europese kunstenaars Russian Village Boys, Prins S. En De Geit en Lionstorm is saam met Jack Parow op vanjaar se program:

9 April 2022: Sportmuziek, Groningen

10 April 2022: TivoliVredenburg, Utrecht