Ashton Wheeler stel sy nuwe enkelsnit en musiekvideo vry

FOTO: Verskaf

As jy in jouself glo, kan jy berge versit en dit is juis díé boodskap wat Ashton Wheeler met sy musiek wil oordra.

“Ek is ’n doodgewone mens met ’n droom en ’n liefde vir musiek. My stem kom van bo af en ek voel ek is geseënd elke dag, en dankbaar vir die pad wat ek moes stap om hier te kan wees,” vertel Ashton.

Vir Ashton is dit belangrik om altyd eerlik met jouself te wees, en dit is wat hy wil hê mense moet sien en hoor in sy musiek. Hy wil mense inspireer om hulleself te bly.

Met sy debuut enkelsnit en video Twee is Beter kan mens hoor en sien dat sy stem, sy voorkoms en sy musiekstyl beslis iets anders is waaraan die bedryf nog nie gewoond is nie. Sy stem en klank is uniek en vanaf die oomblik wat mens na hom luister word jy meegevoer.

Sy nuwe enkelsnit Poetry is vir hom ’n bitter diep liedjie wat ’n verhaal uitbeeld en enige persoon sal hom kan vereenselwig met die emosie en woorde.

“Ek self was al op donker plekke in my lewe en ’n mens geneig om té vinnig tou op te gooi en net saam met die samelewing in ’n rivier af te dryf,” het hy verduidelik.

Dee Graaff Produksies vervaardig sy musiek met kitaarsensasie, Ruan Graaff, as die hoofvervaardiger. “Ashton het ’n fenomenale, sielvolle stem,” het Deon Dee, dit beskryf.

In die musiekvideo sal jy dadelik die rou emosies kan sien en aanvoel en dit is juis wat hulle wou uitbeeld in hierdie video. As jy mooi na die musiekvideo kyk sal jy bekende gesigte daarin sien. Meer kan ons nie nou verklap nie. Julle sal maar die video moet kyk.

Ashton is al van jongs af lief vir sy kitaar en het op die ouderdom van 18 sy heel eerste lewendige vertoning gedoen.

“As ek een persoon kan aanraak en hul lewens positief verander deur my musiek sal ek my doel bereik het,” het hy gesê.

Hy het gesê dat die uitdagende tye in sy lewe was wat hom geleer het om te vertrou op die Here.

“Dit het my beslis geleer van geduld en nederigheid – en as ek nie deur moeilike tye gegaan het nie sou ek nie die inspirasie gehad het om musiek te kon skryf nie. Dan sou ek mos nooit die geleentheid waardeer het nie,” het hy vertel.

Kyk Poetry se musiekvideo hier: