Musiekliefhebbers bewys Michelle Mountjoy het ‘wat dit vat’!

FOTO: Verskaf

Ná byna vier maande se harde werk om die drie Wat Dit Vat-deelnemers in Suid-Afrika se nuutste sterre te verander, het ons eindelik ’n amptelike popster! 

Musiekvervaardiger en kitaarguru Loki Rothman en sy span, het tydens Wat Dit Vat met drie deelnemers ’n eksperiment uitgevoer om te kyk of hy hulle in drie maande in ’n popster verander kan word. 

Michelle Mountjoy se enkelsnit, Sing jou lied, is Sondagaand op Kwêla aangekondig as die liedjie wat die meeste downloads en streams gekry het. 

“Ek het rêrig nie gedink ek gaan wen nie! Dit was een van my trotse oomblikke!” vertel Michelle opgewonde. 

Die drie musiekvideo’s van Michelle, Edó en Uncle Joe is op 27 Desember 2021 uitgereik. Die deelnemer wat die meeste downloads op Spotify, Apple Music en Deezer kry, asook die meeste views op YouTube, is as die ‘wenner’ aangekondig.  Gesamentlik het die drie musiekvideo’s 70 000 views gekry. 

LEES OOK: Hier’s die liedjies, musiekvideo’s uit kykNET se ‘Wat Dit Vat’

Kort ná Michelle uitgevind het haar liedjie het die beste gedoen, het die liedjieskrywer en sanger Appel, haar gevra om twee van sy konserte in Kaapstad te open! Appel het Sing jou lied vir Michelle geskryf as deel van die reeks. 

“Dit het alles so onverwags gebeur! Ons het baie min tyd gehad om te oefen, maar ek glo as ’n geleentheid kom moet ons dit gryp,” vertel sy verder. 

Michelle het ook intussen haar eerste regstreekse opvoering opgeneem by Tussen Ons, kykNET & kie se geselsprogram. Die episode sal 10 Februarie 2022 op die kassie wees. 

“Sjoe, om eerlik te wees, daar was baie druk op my (wat ek self daar geplaas het) om my en Appel se liedjie vir die eerste keer live te sing. Omdat dit so hoog is en ek hom laas gesing het toe ons dit opgeneem het vir Wat Dit Vat in Oktober 2021 was ek nogals uit oefen uit met hom, maar ek weet dit sal beter raak soos wat ek dit meer kan perform!” sê sy. 

Maar Edó en Uncle Joe was nie ver agter nie! Hulle het net-net uitgemis om met die Wat Dit Vat-kroon weg te stap. 

Edó het voorheen gesê dat dit vir hom moeilik is om te beskryf hoe baie die program vir hom, sy mense en nuwe fans beteken! 

“Elke aspek van die program het my net meer en meer respek gegee vir die musiekbedryf. Die liedjie en musiekvideo is iets wat ek nog nooit in SA ervaar het nie. Ek hoop dis ’n baanbreker in elke opsig en dat dit ook die Afrikaanse LGBTQI+ gemeenskap wys dat daar lig aan die einde van die tonnel is,” sê Edo’ trots. 

Uncle Joe sê op sy beurt dat hy nooit gedink het hy sal op 61 ’n rymklets-musiekvideo maak nie! 

“Dit het gevoel ek gaan nooit my droom om ’n sanger te word bewaarheid nie. En toe kom dié geleentheid! Elke dag op stel was vir my ’n plesier! As ek nog 13 episodes moet skiet, sal ek dit met graagte doen,” skerts Uncle Joe. 

Al het Michelle die meeste downloads geniet het, het al drie deelnemers aan die program reeds wonderlike geleenthede en aandag met hul musiekvideo’s ontvang. Daar is binnekort nog baie opwindende nuus vir Edó en Uncle Joe beskikbaar.

Alhoewel radio-speeltyd nie bygedra het tot die eindresultaat nie, het Michelle se liedjie tot op hede reeds meer as 100 keer op nasionale radio stasies gespeel.

Baie geluk, Michelle. Ons kan nie wag om te sien hoe jou loopbaan ontpop nie!