Kersfees is Hier vier die grootste gebeurtenis nóg

Die enkelsnit, Kersfees is Hier, deur Nadia Vorster, vier Jesus se geboorte as die heel grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom.

“Ek het die mooiste Kersfees herinneringe van my kinderjare.  Ek word kinderlik opgewonde oor Kersfees,” het Vorster vertel.

Hierdie liedjie sal beslis aanklank vind by almal wat van die feesseisoen hou. 

“Daar is ’n deel in die lied waar die lirieke sê: ‘Die Engele sing: Vrede vir almal oor wie God feesvier’.  Hierdie is ’n stelling wat direk uit Die Bybel aangehaal is (Lukas 2:14 Die Boodskap Vertaling).  Ek wil die publiek weer herinner dat God so lief was vir ons dat Hy Jesus na die aarde gestuur het – en dat God feesvier oor Sy kinders!  Saam met hierdie kindskap kom God se vrede wat alle verstand te bowe gaan,” het sy vertel.

Vorster het ook vroeër vanjaar haar enkelsnit, Hoe Jy Lyk, vrygestel en dié liedjie handel daaroor om tevrede te wees met dit wat jy in die spieël sien.

Sy het vertel dat sy hoop dié Afrikaanse popliedjie sal mense laat besef God het ons perfek gemaak en dat hy ons liefhet.

Haar onlangse vrystelling, You & Me, is ’n duet tussen haar en haar dogter Alba en besing die liefde tussen ’n ouer en ’n kind – self al is daar baie uitdagings. 

“As ouer voel ’n mens dikwels dat jy dinge verkeerd doen. Jy maak soms verkeerde besluite en soms maak jy regte besluite wat jou kinders eers sal verstaan wanneer hul self kinders het,” het Vorster vertel.

“Deur dit alles is één ding perfek – en dis die liefde tussen ’n ouer en kind,” het sy bygevoeg. 

“Ek is baie opgewonde oor Kersfees is Hier want ek wou nog altyd ’n Kersliedjie vrygestel het, het sy vertel.

Kersfees is Hier kan nou op alle musiekstromingsdienste gehoor word by dié skakel: https://NadiaVorster.lnk.to/KersfeesIsHierMB