FOTO: Verskaf
Ons het met Floris Groenewald van die groep Kabaal Klankbaan gaan gesels oor hul kortspeelplaat Ek en Jy (Is lank reeds verby).
Veels geluk met julle EP. Vertel ons meer daarvan.
‘Ek En Jy (Is Lank Reeds Verby)’ is ’n relatiewe intieme, meestal akoestiese versameling van liedjies oor die konflik en kontras binne verhoudings. Soos die titel insinueer, kan ’n verhouding nog sterk aan die gang wees, maar eintlik niks meer beteken nie. Verhoudings eindig, en mens moet vrede maak met die einde, maar ook met die goeie herinneringe. Ons het hierdie EP ook uitgereik saam met ’n tweelingsuster – Die EP Hunted Women, wat ’n teenpool bied, meer handel oor emosionele bagasie, en ekstra kontras (in terme van inhoud en taal) met Ek en jy (is lank reeds verby) bied.
Waar put julle inspirasie vir jul musiek?
Meestal is dit maar stories wat geïnspireer is deur my eie lewe. Verhoudings, mense, gebeure – ook vriende se verhoudings en ervarings. Tog kry ons ook af en toe inspirasie vanaf ander media, soos liedjies, flieks, en boeke wat ’n kern idee of tema gee waaruit ’n liedjie kan groei.
Wie skryf hoofsaaklik die musiek?
Tot dusver is dit maar hoofsaaklik ek (Floris) wat die liedjies skryf en dit dan dikwels na die band (of ander musikante) neem om musikaal uit te brei. Af en toe vra ek vir iemand anders om ’n bydrae te maak – hoofsaaklik in die vorm van ’n onvolledige liedjie waarby hulle dan ’n gedeelte (soos ’n vers of ’n brug) byskryf – byvoorbeeld die liedjie Thinking, waarop die folk duo Hey, River bygedra het, of ’n paar liedjies wat nog vrygestel moet word.
Wie is Kabaal Klankbaan en waar het die groep ontstaan?
Kabaal Klankbaan was vir lank Floris Groenewald se solo-musiekprojek, maar hy (ek) sien dit nog altyd as ’n band met net een permanente lid. Die band het ontstaan in Pretoria se Moot, maar het deesdae meer lede en is dus in Gauteng gebasseer. Hewie Becker speel baskitaar, Richard Krull speel dromme, en Floris beman die kitare, sang, en soms ’n mondfluitjie.
Enige hoogtepunte sover?
Die grootste hoogtepunte is die lekkerste shows wat ons al gespeel het, en die beste optredes is altyd die waar mense entoesiasties is, en graag musiek wil luister. Dus enige musiekfees, soos die boonste bar by Oppikoppi in 2015, die dek wat oor die Indiese Oseaan uitkyk by STRAB in Mosambiek in 2015, en Splashy Fen in 2016. Die ander situasie waar die stemming net reg is vir die lekkerste optredes is teater-tipe shows, waarvan ons ook al deur die jare ’n paar gespeel het.
Julle EP se omslae lyk soos pragtige kunswerke. Wie se werk is dit?
Dis vir my belangrik dat goeie musiek ook goed vertoon word – of dit nou op jou foon se musiek app is, of as ’n CD op jou rak. Die omslagkuns is ook immers ’n eerste indruk wat help om die ‘storie’ van die liedjies te vertel. Daarom het ek spesifiek moeite gedoen om die regte kunstenaars uit te soek en te nader. Ek en Jy (is lank reeds verby) se waterverf-omslagkuns is deur Vos en Ink gedoen, wie se skilderwerk ek al verskeie kere op Instagram teëgekom het. Dis blote toeval dat die illustreerder vir Hunted Women ’n soortgelyke naam gebruik: Ale & Cake Illustration.
Watter toekomsplanne het julle?
Ek dink die grootste les wat die COVID-pandemie my geleer het is om nie té vaste planne te maak nie – jy weet nooit wat die mat onder jou gaan uitruk nie. Maar vir nou gaan ons nog optree waar ons kan, en dit probeer vars en verrassend hou. Maar ons het ook ’n volgende album, Ek’s Steeds Onstabiel, wat waarskynlik volgende jaar die lig sal sien, waarvoor ons nogal opgewonde is.