Fatman stel nuwe enkelsnit, musiekvideo ‘Kamp Kommandant’ bekend

FOTO: Verskaf

Fatman is een van daardie kunstenaars wat ’n natuurlike talent het om gehore te vermaak. Aanhangers kan net nie genoeg kry van sy musiek nie en hy spog met talle groot radiotreffers.

Na ’n moeilike 2020 en 2021 wil Fatman die jaar op ’n hoë noot afsluit en is hy terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Kamp Kommandant, wat nie net beloof om die sukses van sy vorige werk, soos Dorp Toe wat al oor die 8.5 miljoen kyke en Vuil Coke wat oor die 3.8 miljoen kyke op YouTube het te oortref nie, maar ook sommer ’n paar nuwe luisteraars te beïndruk.

Kamp Kommandant is geskryf deur Fatman, Roux Cloete en Dirk Van Niekerk. Daar word altyd liedjies geskryf oor lekker kuier en dans, so hierdie keer het hulle besluit om vir al die mense wat hou van kamp ’n liedjie te skryf.

Die opname van die musiekvideo was ’n reuse sukses. Die video beeld uit hoe dit soms in Afrikaanse huise gaan, en dat Mamma nou nie lus is vir kamp nie, en Pappa nie kan wag om saam met sy vriende te kuier en ’n lekker vuil coke te drink nie. Met tong-in-die-kies lirieke sal julle sien dat die musiekvideo ’n kinkel op die einde het. Meer as dit kan ons nie weggee nie…  

Fatman glo dat jy nooit te oud is om enigiets te doen nie en dat jy die lewe ten volle moet geniet en daarom het hy nog baie drome en planne vir die toekoms.

  • Luister hier na Kamp Kommandant op digitale stroomdienste.