FOTO: Facebook
Suid-Afrika se gunsteling-paartjie – David Johnson en Bianca le Grange – se nuutste enkelsnit, Bring ’n Braai, met Nigel Morkel, Wicus Struwig, Robin Wright en Johan Baird, is pas bekendgestel en reeds besig om radiogolwe oor te neem.
Hierdie lekkerluister-treffer is aanvanklik geskep vir braaidag en het as gevolg van inperking amper nie gerealiseer nie. Maar gelukkig het alles uitgewerk soos dit moet en kan dié liedjie nou deel wees van almal se vakansie-speellys.
Die goedvoelsnit, wat elemente van elektro-pop, kletsrym en Kaapse Moppie-styl lirieke kombineer, gaan oor bure wat bymekaar kom vir ’n bring en braai en is deur DWB Productions vervaardig.
“Na die ongelooflike moeilike jaar wat ons as musikante gehad het, het ek gedink dit is belangrik om mense te herinner aan die goeie tye wat ons gehad het om saam te kuier en te doen wat ons die beste doen. BRAAI!,” deel Bianca oor die idee agter die enkelsnit. “Dis ’n lekker dansliedjie, met prettige komiese lirieke oor hoe ons na ons ‘nine to five jobs’ aan die einde van die week kan saamkom vir ’n kuier,” voeg David by.
Volgens die paar sal die storie wat hierdie voetjeuklekker-snit vertel by oud en jonk aanklank vind en sal die opgewekte wysie luisteraars uitnooi om saam te dans en die lewe te geniet.
Die musiekvideo is ook nou aanlyn en op die kassie te sien. Dit is deur Wicus Struwig verfilm, by ’n duur huis in Meyersdal Eco Estate en by Global Autohaus Car Dealership in Roodeboort, met die hulp van verskeie borge, waaronder Rawson Properties, Global Autohaus Car Dealership, KWV Brandy, Weber, Pick ’n Pay Mulbarton en Lemon Tree.
In die video kom almal na werk by Bianca se huis bymekaar vir ’n braai. Die idee daaragter is om te wys hoe mense van alle dele van die samelewing saamkom om die braaivleisvuur te kuier.
Bring ’n Braai volg in die voetspore van die duo se vorige vrystellings, Ek Baklei Vir Jou en die temalied van die reisprogram, Destination Vacation.
David Johnson is ’n suksesvolle vermaaklikheidster, danser, musikant, akteur en regisseur wat veral bekend is vir sy rolle in 7de Laan (Dwayne) en Getroud Met Rugby (Liam). Die akteur was ook al te sien in verskeie musiekblyspele en is benoem vir ’n Naledi-toekenning vir Beste Akteur in ’n Hoofrol vir sy aandeel in die Market-teater se Yellowman.
Bianca Le Grange het in 2002 bekendheid verwerf as ’n Idols SA-deelnemer, wat gelei het tot die ontstaan van ’n baie suksesvolle musiekloopbaan en die vrystelling van vier gewilde albums. As sanger, het sy al geopen vir verskeie oorsese kunstenaar en die voorreg gehad om vertonings te doen in Afrika, Brasilië, Nederland en Duitsland. Verder is sy ook ’n kranige rolprent- en verhoogaktrise en het sy ’n Naledi-toekenning gewen vir haar rol in David Kramer se Blood Brothers, asook Fleur du Cap- en Naledi-toekennings vir die treffer-musiekblyspel, West Side Story.
Die paartjie is reeds ses jaar getroud en besit, saam met Wicus Struwig, die produksiemaatskappy, DWB Productions.
Bring ’n Braai is die perfekte liedjie om die vakansie mee af te skop en gaan beslis nog vir lank koning kraai op die dansvloer en kuiers rondom die braaivleisvuur.
Kyk die musiekvideo vir Bring ’n Braai eksklusief hier: