FOTO: Verskaf
Vrydag, 19 November stel Straatligkinders ’n splinternuwe enkelsnit vry genaamd Dapper. Die enkelsnit, ’n samewerking met Francois van Coke, kom kom ná die vrystelling van hul vorige enkelsnit, Kom Saam in Augustus vanjaar. Albei aanbiedinge vorm deel van ’n versameling splinternuwe liedjies en samewerkings vanaf die groep.
Dapper is geskryf tydens die Julie 2021 onrus in Suid-Afrika. Die inspirasie vir die lied is die konsep van konflik, hetsy in romantiese verhoudings, of verhoudings in die algemeen tussen landgenote, vriende en familie. Die liedjie gaan daaroor om jou wit vlag te swaai te midde van konflik en om wapens neer te lê in ’n poging vir dinge om beter te gaan.
Vir Dapper het Straatligkinders teruggekeer na hul 2006-rock-wortels en die liedjie bevat groot kitaar-riffs en dreunende drom-grooves met Bouwer en Francois se kenmerkende sangstemme in die koor.
“Toe ek die refrein geskryf het, het ek net geweet dat ons vir Francois op hierdie liedjie moes kry. Die boodskap en die sleutel waarin die liedjie is, het net reg gevoel. Ons is natuurlik groot bewonderaars van Francois en al sy musiekprojekte, so dit het 15 jaar geneem voordat die samewerking gebeur het. Die liedjie is belangrik en soms moet jy net wag totdat die regte liedjie kom, en dit is daardie liedjie vir ons,” sê Bouwer.
“Straatligkinders het vir my ’n song voorgelê wat basies klaar was; ek het daarvan gehou en binne ’n minuut vir Bouwer gesê ek’s in. Ons speel al shows saam sedert 2004, en ons het nog nooit ’n verhoog gedeel of iets saam gedoen in al die jare nie. Dis interessant, want ons kom van dieselfde background af. Ek is opgewonde oor die tune want ek hou baie daarvan en ek dink ons fans gaan ook baie daarvan hou!” sê Francois van Coke.
Die video vir die enkelsnit is in Oktober by The Alexander Theatre in Johannesburg geskiet, en Damiane van Reenen, Werner Botha en Bouwer Bosch was aan die stuur van regie. Aanhangers kan uitsien na ’n vinnige, energieke, rou, kleurvolle en treffende vertoningsvideo; ’n aanbieding wat deur jou oë na jou hart beweeg.