Lallie deel boereraat in opwindende debuutsnit

Die plaasmeisie, Lallie, se debuutsnit, Boereraat, is pas vrygestel en met dié ritmiese loslitliedjie hoop sy alle Afrikaanse musiekliefhebbers sal wil skoffel en saamsing in die feesseisoen.

“Ek was opsoek na ’n lekker plaasliedjie en het Johan Oberholzer genader. Hy het altyd ’n wenresep en toe hy vir my dié liedjie stuur, het ek dadelik daarvan gehou,” het sy, wat self ook van die platteland afkomstig is, vertel.

“Ek hoop Boereraat sal luisteraars se gemoedere lig en hulle dadelik in ‘n beter bui plaas,” het sy bygevoeg.

Sy het by Murray Lubbe, bekende musiekvervaardiger wat ook al verantwoordelik was vir treffers deur Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jo Black, Ruhan du Toit, Gerhard Steyn, Appel en meer, gaan aanklop.

“Dit was so groot voorreg om dié liedjie – en droom van my – aan hom toe te vertrou,” het sy gesê.

Boereraat se musiekvideo is ook vrygestel en vertel die storie van ’n jong plaasmeisie wat bietjie boereraat oor die liefde benodig.

“Ek wou regtig die plaasgevoel ook deur die musiekvideo oordra en hoop kykers sal dadelik voel hulle is op die plaas,” het sy gesê.

Lallie het vertel dat haar plaaswortels diep lê en die plaaslewe sterk deur haar are loop. “Ek is gebore op ’n klein plaasdorpie in die Wes-Transvaal, Schweizer-Reneke. Daarna het ons vir baie jare op ’n plaas tussen Bloemhof en Christiana gewoon. Die plaas bly maar altyd deel van ’n mens,” het sy verduidelik.

Sy is tans ‘n stadsmeisie in Pretoria en het gesê by haar brand ‘n vuurtjie altyd die grootste. “Ek is baie lief vir ’n houtjie wat knetter,” het sy bygevoeg.

Sy hou ook van spoed en het vertel ’n ervaring soos op die Anaconda-pretrit by Gold Reef City is selfs nog bietjie te stadig vir haar. “Ek is ’n avontuurlustige mens, wat lief is vir mense, diere, die natuur en musiek. Ek hou van poetse bak en grappies vertel. As mense lag, lag my hart saam,” het sy op ’n ernstige noot vertel.

Lallie het in ’n musikale familie grootgeword en sing al vandat sy vyf jaar oud is. “Ek kan vir ure luister hoe my Pa die kitaar tokkel. Ek hou so daarvan om te sien hoe daardie krom vingers, wat so hard gewerk het om vir ons te sorg, elke noot presies raak druk,” het sy vertel.

Sy kyk op na kunstenaars soos Brendan Peyper, Appel, Elvis Blue en Riana Nel nie net omdat hulle so mooi sing nie, maar ook oor hulle self musiek skryf.

“Jy moet hard werk, groot droom, bid, glo en vertrou. As jy op jou knieë bly, kan jy nie struikel nie.” voeg sy by. Boereraat is wel Lallie se debuut-enkelsnit tot die musiekindustrie, maar sy visualiseer hierdie droom al vir jare en voel uiteindelik reg vir die reis om haar passie uit te leef.

En vir nou skoffel Lallie die musiekbedryf binne sonder om te struikel. Selfs Weiveld, die gewilde dans en kuierplek in Pretoria wat onlangs weer sy deure na afloop van Covid-19 kon open,  het haar danstreffer op die speellys gehad in die openingsnaweek en mense het behoorlik daarop geskoffel.

Boereraat is nou op alle musiekstromingdienste beskikbaar, asook ‘n spesiale musiekvideo daarvan op YouTube. Digitale verspreiding word behartig deur Coleske Artists Management, om te verseker dat hierdié snit op vele sokkie-speellyste gehoor kan word.

Volg Lallie as kunstenaar hier:

Facebook: @Lallie4

Instagram: lallie_musiek

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCbeVOTNOujW8thQ15XNF86A