FOTO: Verskaf
Die musiekvideo spog reeds met meer as 130 000 trefslae op YouTube sedert sy vrystelling ’n maand gelede en meer as 3000 mense het al ’n video met dié klankgreep op Tik Tok gemaak…
Kevin Smit oftewel Kevboii en sy broer Charlie Beeskraal se liedjie Stoute Boude is vinnig besig om ’n internet-fenomeen te word en ons het gaan aanklop by Kevin om oor hierdie oorwurm te gesels.
Kevin sê dat die idee van Stoute Boude vir lank in sy notaboek neergepen was. “Ek het die liedjie self geskryf, maar Anton Goosen het hand bygesit met die koor gedeelte. Hy sou eintlik ook hierdie gedeelte gesing het,” vertel Kevin.
Die liedjie het gou begin vlam vat op sosiale media en mense het hul eie danse op Tik Tok begin doen van Suid-Afrika tot sover as die VSA. “Dit is vir my baie vreemd om daaraan te dink, maar dit is ’n baie groot eer altesaam. Dit gee vir my ’n gevoel van adrenalien soos nooit van tevore.”
In die musiekvideo word die liedjie visueel uitgebeeld en hiervoor het Kevin so ’n paar van sy vriende en vriendinne bymekaar gekry om as “stars” op te tree. “Alles het perfek uitgedraai!”
Kevin was nog altyd van nature ’n skaam persoon, maar voel dat hy deur musiek en op die verhoog te wees homself gevind het. “Stoute Boude is my amptelike debuut in die musiekbedryf,” verduidelik Kevin.
Vra jy hom by wie hy inspirasie put, antwoord hy dadelik: My broer Charlie van Beeskraal. “Hy het my dadelik onder sy vlerk ingeneem en my tou wys gemaak oor die bedryf. Hy is ’n groot inspirasie veral met als waardeur hy is in sy 21 jaar in die bedryf. Ek sal hom altyd as my rolmodel beskou.” Verder sal hy ook saam met Bernice West wil werk of iets saam met rymkletsers soos Jack Parrow of Early B wil doen.
Sy inspirasie vir sy musiek kom uit sy daaglikse lewe of die mense rondom hom. “Ek kyk maar rond vir idees en skryf dan ’n lekker treffer daaroor,” verduidelik hy.
Kevin sal graag eendag sy eie kroeg wil bestuur met sy eie rum-besigheid daarby. En wat weet ons nie van hom? “Ek is baie goed in sport – rugby en krieket veral – ek het op skool stut gespeel.”
Kevin se skedule is tans lekker vol – wanneer hy nie by die werk is in die dag nie is hy besig met musiek en natuurlik is die volgende enkelsnit binnekort op musiekplatforms beskikbaar. “Hy is vir 25 November geskeduleer,” laat Kevin die aap uit die mou.
En as Stoute Boude enigsins ’n aanduiding is van wat verwag kan word, is aanhangers in vir ’n “treat”!