Rita Li stel ’n ‘sexy’ nuwe enkelsnit, musiekvideo bekend

FOTO: Verskaf

Rita Li raak by die dag meer gewild en met haar aansteeklike lus vir die lewe, is dit te verstane dat oud en jonk besig is om versot te raak op hierdie pragtige jong vrou met die blou oë, goue lokke en energieke verhoogpersoonlikheid.

En nou gaan sy verseker nóg meer harte verower met haar nuwe popsnit, Dink Aan Jou Lyne. Dit is pas vrygestel en vier die onthou-oomblikke van ’n vorige verhouding.

Dié sexy nommertjie, geskryf deur Stella (Christelle Combrink) en vervaardig deur The Hit Factory se Murray Lubbe, nooi jou nie net uit om saam te sing nie, maar sal jou ook nostalgies laat terugverlang na die tye toe jy verlief en verlore was.

“Hierdie lied gaan oor herinneringe van ’n vorige verhouding; die plekke wat die paartjie besoek het en die fisiese aspekte van haar maat soos die lyne van sy lyf, sy lippe en hande. Dis ’n sexy snit,” vertel sy met ’n vonkel in die oog. “Elkeen van ons het iemand waarop ons verlief was iewers in ons lewens en daarom sal die lirieke aanklank vind by meeste mense. Dis ’n smeulende onthou-liedjie met ’n lekkerluister koorgedeelte en melodie.”  

Daar is natuurlik ook ’n musiekvideo om lewe te gee aan hierdie Afrikaanse treffer. Afrikaans is Groot se Barry Pretorius wat die kreatiewe regisseur agter die skerms en die video is by die swembadarea op die sewentiende vloer van die Maslow Hotel in Menlyn Maine verfilm, asook in een van hulle luukse hotelkamers.

“Die konsep is gevorm rondom die lirieke en beeld spesiale oomblikke van ’n vorige verhouding uit. Die akteur saam met my, Kallas Eksteen, is ’n goeie vriend uit my kinderdae en natuurlik ’n goeie uitbeelding van die lyf se lyne. Dit was ook vir my belangrik om die grootste gedeelte aan optrede van die liedjie te spandeer. Die storielyn was sekondêr,” verduidelik sy. “Om saam met Barry te kon werk was ’n reuse voorreg en ’n wonderlike ervaring! Ek kon myself heeltemal inleef in die produksie sonder om aan enige verantwoordelikhede te dink!” 

Kyk die musiekvideo hier:

Dink Aan Jou Lyne is die derde vrystelling vanaf haar debuut-album, Roekeloos Verlief, wat binne drie dae nadat dit uitgereik is onder die top-5 albums op Apple se treffersparade gelys is.

Rita Li is ’n plaasmeisie van Clocolan in die Vrystaat, maar woon deesdae in Pretoria. Sy is ’n veelsydige musikant en liedjieskrywer, ’n kranige danser en ’n opgeleide sportfisioterapeut wat nie bang is om groot te droom nie.

Tans werk sy aan materiaal vir haar tweede album en haar eie klerereeks en beplan sy aan verskeie groot vertonings, wat ’n liefdadigheidsfunksie vir vroue, landswye toer en Kersproduksie insluit.  

Dink Aan Jou Lyne gaan verseker ’n indruk maak en is beskikbaar op alle digitale platforms as deel van haar album.