FOTO: Verskaf
Standard Bank Innibos se Liedjie inni Laai liedjieskryf-kompetisie in samewerking met kykNET se Die Groot Ontbyt is vroeër vanjaar van stapel gestuur as ’n poging om opkomende en gevestigde kunstenaars die geleentheid te bied om hul liedjies na die professionele arena te bring.
Ervare en aspirante liedjieskrywers en musikante is uitgenooi om deel te neem aan dié kompetisie. Deelnemers kon hul liedjies in enige genre indien.
Die wenner het ’n kontantprys van R10 000 losgeslaan en die liedjie is deur Murray Lubbe van The Hit Factory vervaardig en opgeneem. Die liedjie sal ook op die hoofverhoog tydens die volgende Standard Bank Innibos opgevoer word.
Uit 106 inskrywings is Jaco Smit se liedjie As Dit Reën op Vrydag, 1 Oktober as die wenliedjie aangewys. Dewald Wasserfall en Karlien van Jaarsveld is die stemme agter hierdie besonderse lied. “Nee! Julle ek cope nie,” het Jaco gesê nadat hy as wenner deur Johrné in ’n regstreekse uitsending van Die Groot Ontbyt aangewys is.
“As ’n ou luister na ’n song, of ’n demo in my geval, luister ek altyd na waar ek met die production wil heen gaan en hoe ek die ding wil laat klink,” verduidelik Murray.
Volgens Murray het hy besluit op Dewald en Karlien deur die demo wat dit vir hom gegee het. “Ek het baie gehou van die vers, dis een van die goed wat my dadelik gegryp het. Ek hou van goed wat lekker ritmies is,” vertel Dewald Wasserfall.
Jaco vertel op sy beurt oor die keuse van die stemme: “Dewald en Karlien was die beste keuse vir hierdie liedjie gewees. Ek was ongelooflik impressed met Dewald se grunginess in sy stem. En Karlien se tone, waarvoor sy bekend is.”
“Ek het gevoel dis baie tydig. Ek het gevoel dis nodig vir mense se ore om dit te hoor. En dalk bring dit bietjie ’n ligpunt in hulle plekkie waar hulle op die oomblik is,” vertel Karlien oor die liedjie. “Ek is nog altyd gefokus op lirieke, ek hou baie van hoe ’n liriek klink.”
Murray verduidelik dat Dewald en Karlien se style op ’n mate ’n goue draadjie deur het… “Ek het die song van ’n kant af gevat en hoofsaaklik by die structure gebly wat hy gehad het. Ek het ook in die back of my mind daardie idee gehad van Innibos se hoofverhoog, die Saterdagaand show met 40 000 mense, groot massive fireworx wanneer die song daar perform word en Brendan Ross voor met die saxophone en ’n kitaar-solo vir Floors. En dis hoe ek besluit het op ’n sax aan die einde,” vertel Murray verder.
“As dit reën is so ’n goeie timing, want ek dink ons het nou nodig dat dit reën. Ons het nou nodig dat daar ’n klomp goed van die aarde af weg spoel. Reën bring altyd nuwe lewe,” vertel Karlien.
“Ek kan nie net skryf asof ek iemand anders is nie. Dit is nie vir my ’n natuurlike gevoel nie. Dit is vir my baie belangrik dat mense Jaco in die liedjie kan hoor,” sluit Jaco af.
Kyk hier na ’n agter-die-skerms blik van die maak van As Dit Reën:
- As Dit Reën is nou op digitale musiekplatforms soos Apple Music, Spotify en Deezer beskikbaar.