FOTO: Verskaf
Die immergewilde Janie Bay het pas ’n video vir die tweede enkelsnit vanaf haar album Prisma uitgereik. Die liedjie Kalmeer gaan oor die onvoorspelbare wêreld waarin ons tans leef. “Ek voel dat ons almal bietjie kalmer waters nodig het. Dinge beweeg vreeslik vinnig deesdae en dit voel asof daar tans so baie onverwagte dinge oor ons almal se pad kom. Dit is tans moeilik vir die mensdom om psiglogies en emosioneel sin te kan maak van wat alles gebeur,” verduidelik Janie.
Niemand is altyd op hul beste nie. Met die maak van die video wou sy en regisseur Damiane van Reenen werk met beelde wat die psige van ’n diep onrustigheid voorstel. Depressie, angs, moedeloosheid, vrees ensovoorts. Dit gee die gevoel van daardie moeilike tye uit wanneer ons in onvaste oomblikke nie die antwoorde het hoe om dinge beter te kan maak nie. Bay sê dat sy dit geniet om met Van Reenen te werk. “Hy het ’n skerp, innoverende oog.” Die res van die span op stel, Marguerite van Eeden (produksie-assistent) en Ibby Bukuru en Deon Dee (beligting) het dit alles ’n baie goeie ervaring gemaak. “Ek hoop dat mense van die video sal hou!”
Kyk die musiekvideo hier:
Janie Bay se Afrikaanse album, Prisma, waarop Kalmeer verskyn, is in Junie vanjaar uitgereik. Die eerste enkelsnit vanaf die album My Lief wat Bay saam met Majozi en Early B opgeneem het het groot sukses op radio behaal, onder andere die nommer 1 posisies of Jacaranda FM se SA Top 20 en dié stasie internasionale CTM Top 20. My Lief was ook nommer 1 op Radio Helderberg se SA Top 10 en het verskeie ander Top 20 posisies landwyd gehaal.
Die album is ’n samevloeisel van liedjies wat geskryf is tussen 2019 en vroeg-2021. Met persoonlike temas soos familie, die liefde, passie, verlies en aanmoediging as hoeksteen, is dit ’n meesterlike smeltkroes van uiteenlopende musikale teksture wat wye draaie gooi tussen lieflike ballades en ligte pop-musiek, asook ’n goeie dosis elektroniese adrenalien.
Janie Bay het in 2017 as SAMA-genomineerde kunstenaar en internasionale pryswenner aangesluit by Warner Music Suid-Afrika. Haar musiek is al meer as 6 miljoen keer gestroom en volgens radiomonitor.com het haar Afrikaanse enkelsnitte die afgelope twee jaar meer as 100 miljoen luister-trefslae gehaal.
- Prisma is beskikbaar op alle gewilde digitale platforms.