Henri Alant sing oor ‘Madelein’ in nuwe enkelsnit

FOTO: Willem Botha

Die suksesvolle vrystelling van Henri Alant se duet saam met Jennifer Zamudio Daar’s ’n Rede in 2020 het die kollig helder laat skyn op dié begaafde sanger. 

Snitte soos Jy is lig en Rose het gou gevolg met laasgenoemde wat die nommer een plek beklee het. 

Nou is Henri terug met sy nuwe en vierde enkelsnit Madelein

Die lirieke vir Madelein is uit Henri se eie pen en hy het die melodie gebruik van ’n oorsese dans liedjie  deur NIC.P. Henri volg die voorbeeld van Ray Dylan, wie se liedjie Jessica, ook op ’n melodie van NIC.P geskoei is. 

Madelein is ’n pop liedjie, met ’n lekker vinnige ritme, wat beloof om jou na die dansvloer te lok. Dit is eg aan Henri se energieke styl en lus vir die lewe. Henri het die titel Madelein gekies omdat hy nog  nooit ’n Madelein ontmoet het wat nie spontaan is of nie positief is nie. Hy glo meeste van ons ken só ’n  Madelein… 

“Ek vier ook graag kunstenaars wie my laat wil opstaan en harder probeer,” vertel Henri. “Ek hou  daarvan om mense te sien kuier op my musiek, maar dan is dit so spesiaal wanneer mense my kontak of e-pos of op sosiale media vir my sê my liedjies beteken iets vir hulle soos; Rose wat ek vir my Ma  geskryf het waarin al sy ondersteuners aanklank gevind het,” vertel Alant verder.  

Henri glo dat Daar’s ’n Rede wat deur Rudi Claase geskryf is, en vir Henri gegee is vir sy 30ste verjaarsdag “het my voet in baie deure gekry.” “Dit sou nie dieselfde inpak gehad het, as Jennifer  Zamudio nie ingestem het om dit saam met my op te neem nie.” Die liedjie was letterlik ’n weghol  sukses en het ses nommer een plekke behaal op trefferparades. 

Henri glo dat ’n mens lief moet wees vir wat jy doen en dit waardeer wanneer dit goed gaan met sukses en in slegte tye, maar die belangrikste, jy moet altyd nederig bly.

Die slegte situasie wat die Covid pandemie veroorsaak het, het hom belis nie onder gekry nie. Hy het drie  pragtige liedjies uitgereik in die tyd en “het lig probeer bring want dit was al wat ek as kunstenaar gehad  het om te bied,” erken hy. 

Henri glo “die dag van môre is nie verseker nie en dis tyd om jou ou dans skoene af te stof en die  dansvloer warm te hou saam met jou vriende, vriendskappe te vier en weer gesellig te wees saam met  jou mense en die lewe voluit geniet (as Covid dit toelaat).”