Casper Stone gesels musiek, ‘sielkunde’ en toekomsplanne met ons

FOTO: Verskaf

Ons het met Casper Stone gaan gesels oor sy nuwe enkelsnit saam met Ruan Xen, Mis jou nie, hoe hy balans tussen musiek en sielkunde vind en meer. 

Vertel meer oor die tema van jou en Ruan Xen se nuwe enkelsnit Mis jou Nie.

Mis Jou Nie is geskryf vanuit die perspektief van iemand wat terug dink aan ’n ou verhouding en gevoel van dankbaarheid en verligting beleef – dankbaarheid vir die leerskool wat die verhouding was sowel as ’n gevoel van verligting na die op breuk van die verhouding. Die liedjie beklemtoon die lewens les dat party mense se paaie kan kruis vir ’n tydperk en daarna weer in verskillende rigtings gaan.

Die lied is al 10 jaar gelede geskryf, hoekom het julle dit nou eers opgeneem?

Goeie vraag. Ek het destyds probeer om die song op te neem en te vervaardig, maar ek het nog nie die regte kennis gehad nie. Ek het besef dat ons professionele produksie sou benodig. In die afgelope tien jaar het ek deur baie groei gegaan as ’n mens en musiekant en verlede jaar het ek besef dit is nou die regte tyd om die liedjie op te neem (ek het ook genoeg geld gespaar om dit by ’n goeie studio te kan doen).

Mis jou Nie verskyn op jou debuut solo EP Raw Reflections  – vertel ons meer van die EP?

Die Raw Reflections EP is baie spesiaal. Die liedjies daarop vertel almal stories. Party stories is geleen van my ervaring as ’n kliniese sielkundige in praktyk, party kom uit my persoonlike liefdes ervarings uit en ander is net ’n refleksie van die proses van menswees. Ons is almal partykeer ’n bietjie weird verlief, kwaad, diep donker en meer. Ons het net iemand nodig om te sê: Dit is OK… Dit is wat jy op die Raw Reflections EP sal kry.

Jy was al in verskeie suksesvolle Engelse groepe oor die afgelope paar jaar. Wat het jou inspireer om nou ook in Afrikaans te begin sing?

Dit is snaaks watter draaie die lewenspad ’n mens laat loop, maar hy bring jou altyd op een of ander manier terug huis toe. Om in die emosionele diepte en towerkuns van Afrikaans as ’n taal te beleef is ’n tuiskoms vir my.

Wat instrumente kan jy alles speel?

Saksofoon, mondfluitjie en dan die snare: kitaar- snare, bass kitaar-snare, hart-snare ens.

Wie was jou grootste inspirasie in jou musiekloopbaan?

My ouers wat nooit moed opgegee het met my nie. Hulle is al deur meer as 20 jaar van saksofoon toonlere, elektriese kitaar kakofonie, trane, moedeloosheid, teleurstelling, ekstase, ens saam met my. Ek weet nie wat ek in my vorige lewe gedoen het om so sulke wonderlike ouers te verdien nie, ek is net dankbaar.

Wat is die beste advies wat jy al gekry het oor ’n loopbaan in musiek?

Dit het gekom van my lewensmaat toe Covid gekom het en ek gewonder het of ek goed genoeg is om myself bekend te stel as ’n solo-kunstenaar: Dit maak nie saak hoe hard jy oefen nie, erens in die heelal sal daar iemand wees wat ’n beter musikant is as jy. Wees jouself! Niemand kan ’n beter of meer unieke weergawe van jouself wees nie en dit is wat mense graag wil sien.

Jy is ook ’n praktiserende sielkundige. Hoe lank al en hoe balanseer jy jou sangloopbaan hiermee?

Ek het my internskap in 2017 klaar gemaak by Weskoppies Hospitaal in Pretoria so dit is nou al my 4/5 de jaar as sielkundige. Dit het my ’n ruk geneem om ’n goeie balans te vind en aan die begin was daar nie genoeg tyd vir musiek nie. 

Ek het in 2019 die groot lewens besluit gemaak om ’n privaat praktyk oop te maak in Pretoria en te spesialiseer in die ouderdoms groep tussen 20 en 40 jaar oud.

Sodoende het die balans begin kom en deesdae kan ek my dae in twee deel – een helfte vir sielkunde en een helfte vir musiek. Die twee werk goed saam.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek wil graag my volgende enkelsnit nog hierdie jaar vrystel. Ek sien ook uit na die moontlikheid om weer lewendige opvoerings te kan doen as ’n solo-kunstenaar sowel as saam met my band – Stones & Bones. Ek beplan ook om vir iemand te vra om te trou, maar dit is nog soortvan ’n geheim.