FOTO: Verskaf
Die Covid 19-pandemie het vir baie mense ’n stryd geraak – ’n stryd om emosioneel en finansieel te oorleef.
Maar vir Dirk Roeper het die grendeltydperk die geleentheid gebied om sy musiek aan te pas, te verander; om die nuwe geleenthede wat Soos die maan vir hom gewink het, aan te gryp en te ontwikkel.
Die resultaat van die kreatiwiteit is ’n spiksplinternuwe enkelsnit Soos die maan. Met dié enkelsnit maak Dirk, wat langer as dertien jaar bruide op hulle mooiste dag vermaak het, sy amptelike toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf.
En wat ’n aanwins is hy nie…
Dirk is deel van die groep The Morning After (wel, ’n mens kan die naam van die groep op verskillende maniere interpreteer), maar die afgelope twee jaar het hy besluit om meer te fokus op sy eie, oorspronklike musiek. “Ons was ’n regte, egte wedding band, vertel Dirk, “ons repertoire het bestaan uit musiek uit die tagtiger- en negentigerjare en dan natuurlik ook die nuutste stamp-en-dansnommertjies.”
Gedurende die grendeltyperk was huweliksonthale nie meer so gróót en glansryk nie, en Dirk het skielik meer tyd op hande gehad.
Soos die maan is gedurende dié tydperk gebore. Dirk het natuurlik ook sy inspirasie, uit die honderde bruide wat op hul troudag net oë vir hul geliefde het, geput.
Dit is ook in ’n neutedop waaroor dié rock-liefdesballade handel: “Die hooftema van die liedjie is die skoonheid van twee mense wat op hul troudag besef dat al wat saak maak is net hulle twee. Ons sien gereeld hoe oorweldigend die troureëlings vir ’n paartjie kan wees – maar op daardie oomblik – voor die kansel – is dit net die paartjie. Alles gaan net oor hulle.”
Die titel van Soos die maan kan ook op verskeie maniere geïnterpreteer word. Dirk beskou die maan as iets wat standvastig en blywend is (soos die liefde behoort te wees.) “Die maan kom elke aand op – dit is soortgelyk aan die huweliksbelofte.”
Dirk is ’n veelsydige musikant en kan ook verskillende musiekinstrumente bespeel, maar sy gunsteling instrument is die akoestiese kitaar. “Dit is ’n instrument wat my kalm maak, en natuurlik is dit ook maklik om daarmee rond te reis. Ek kan die kitaar optel en op enige plek musiek maak.”
Dirk het op Kriel in Mpumalanga groot geword. Hy erken grappenderwys dat skoolwerk nie ’n groot prioriteit in sy lewe was nie; trouens, skoolwerk het by wyse van spreke die tweede viool gespeel…
Hy was maar altyd doenig met sy instrumente en sy familie het hom ook bygestaan en aangespoor om sy eie musiek te maak.
Soos die Maan is nie net sterk liriekgedrewe nie, maar die melodie is skoon en vars. In dié geval komplimenteer musiek en liriek mekaar.
Hieroor sê Dirk: “Ek dink melodie en liriek speel ’n ewe belangrike rol. Die maklikste gedeelte is die melodie. Sodra dit daar is, vul ek dit met lirieke aan. “Ek glo dat liedjies stories moet vertel – dit is makliker om na die storie te luister as die melodie trefkrag het.”
Sy verhoognaam Dirk Roeper is ook simbolies; ’n simbool van musiek wat wink; van ’n sanger wat mense roep om na sy musiek te luister.