FOTO: Francois Olivier
Wanneer ’n mens deur moeilike tye gaan, kan jy op twee maniere aan die anderkant uitkom: Dit kan jou óf verslaan, óf jy kan met nuwe wysheid, moed en hoop daar uitstap. Elvis Blue stoei saam met almal deur ’n pandemie, maar een ding is seker; hy vind Goud In Die Vuur en besef met sy nuutste album wat is Meer As Genoeg.
Voordat hy as Elvis Blue bekend geraak het, het Jan Hoogendyk hom op die ouderdom van sestien self leer kitaar speel. As jong man het hy begin ‘busk’ en albums onder die naam Mono vrygestel. Die naam ‘Elvis Blue’ is in 2008 gebore nadat hy ’n seun met die naam Elvis Blaauw in ’n kinderhuis ontmoet het. Hierdie seun is oorlede kort voor Elvis in 2010 as die Idols-wenner aangekondig is. Tien jaar en tien albums later is die verhoog naam Elvis Blue ’n huishoudelike naam.
Dit is twee jaar sedert Elvis se vorige vrystelling en hierdie album lê hom na aan die hart omdat hierdie afgelope twee jaar se uitdagings vir hom tot nuwe insigte gebring het. “As ’n skrywer en kunstenaar kry jy soms ’n taai klap. Eers huil jy en kry jy jouself jammer, maar dan besef jy dis die beste ding wat met jou kon gebeur.” vertel Elvis. “Daar het ’n paar dinge (gedurende hierdie tyd) binne my gebeur wat ek in liedjies verwoord het.” Daarna het hy nou saam met Arnold Coleske en Paulo Azevedo in die Coleske Artists-ateljee gewerk om ’n uitsonderlike album na ’n Afrikaanse gehoor te bring.
Die titelsnit van Meer As Genoeg handel oor die dinge wat jy daagliks as vanselfsprekend aanvaar, soos om tyd met jou gesin te spandeer of selfs om in die natuur te gaan stap. “Eers wanneer dit by iets soos jou huis of werk kom en jy besef daar is ’n kans dat jy dit kan verloor, raak jy regtig dankbaar daarvoor.”
’n Musiekvideo vir hierdie snit is ook verfilm waarin Elvis saam met gewone mense uitgebeeld word en bewys hoe hulle in die eenvoud van die lewe geluk vind. Die video is oor vier dae in Meiringspoort, Johannesburg, George, Oudtshoorn asook die Wildernis verfilm.
Kyk die musiekvideo hier:
Ondersteuners kan ook uitsien na meer liefdesliedjies vanuit die pen van hierdie begaafde skrywer. “Ek het ook baie oor my vrou geskryf,” verklap hy. “Ek besef die afgelope tien jaar het ek baie min tyd saam met my familie spandeer en baie tyd op die pad deurgebring. Toe, skielik was ek vir ’n lang tyd by die huis saam met my gesin vir wie ek lief is.”
’n Snit vanaf die album wat vir Elvis uitstaan is ’n lied met die naam Goud In Die Vuur. ”Soms moet daar eers ’n paar klippe in die vuur gegooi word, voordat daar goud kan ontstaan.” Hierdie metafoor pas vir hom goed by die huidige omstandighede in ons land en die wêreld. “Ek het die afgelope tyd self gevoel soos ’n klip wat in die vuur gegooi is en ’n mens hoop daar kom iets positief daaruit.” Daar het vir seker iets goed daaruit gekom, want Elvis Blue het deur middel van hierdie album weereens kuns gemaak.
Elvis Blue se nuwe album is nou op digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music beskikbaar.