Ons Sal Self: Gratis konsert; groot pryse op die spel!

FOTO: Verskaf

In ’n poging om te verhoed dat die vermaaklikheidsbedryf heeltemal in duie stort as gevolg van die Covid-19-pandemie, het Coleske Artists Management en Vocal Events – wat van die land se grootste kunstenaars bestuur – nou hande geneem met ’n projek wat nie net weereens ’n gesogte produksie beloof nie, maar ook die publiek ’n geleentheid gee om ’n Toyota Rav4 te wen.

“Daar is ongetwyfeld baie industrieë wat hard deur die pandemie getref is, maar toe die derde Covid-19 vlaag die land tref en inperkings weer versterk is, was dit ook die spyker in die spreekwoordelike doodskis van baie kunstenaars se inkomste,” het Duane Brown, hoof van Coleske Artists Management se kunstenaars bestuursafdeling, gesê.

“Dit is ons verantwoordelikheid om ons kunstenaars in hierdie moeilike tyd by te staan om ’n inkomste te kan genereer. Hulle het almal gesinne om na te kyk,” het Brown verduidelik.

Volgens altwee bestuusagentskappe is dit van kardinale belang dat die publiek ook nóú die kunstenaars bystaan sodat hulle ook weer in die toekoms, na afloop van die pandemie, geniet kan word.

Daar is uit die boks gedink en ’n uitstekende plan is gebore, – ’n eerste vir Afrikaanse musiek. ’n Groot gratis konsert met ’n groot doel. 

Vir die eerste keer ooit sal meer as twintig kunstenaars bymekaar kom vir die Ons Sal Self-konsert wat op Vrydag, 6 Augustus en Vrydag, 13 Augustus sal plaasvind. Dié produksies sal regstreeks op Youtube en Facebook uitgesaai word en Afrikaanse musiek liefhebbers sal dit gratis in die gemak van hul eie huis kan geniet. 

Die platform wat hiervoor gebruik gaan word is die Woes-platform wat oor die laaste paar maande verskeie suksesvolle konserte en fondsinsamelings aangebied het. 

“Ons hou hierdie ouens (Jaco van Dyk en Hamilton Wessels) dop en is baie beïndruk met wat hulle vermag. Dit maak net sin om hierdie projek saam met Woes aan te pak,” het Arnold Coleske, Direkteur van Coleske Artists Management, oor die samewerking met Woes verduidelik.

Al die kunstenaars staan saam en in krisistye is almal gelyk. Met dié projek sal al die winste dus gelyk opgedeel word aan die kunstenaars en sodoende ondersteuning bied in moeilike tye. 

Groot maatskappye het hierdie kameraadskap raakgesien en onmiddelik besluit om betrokke te raak. Virseker, wat altyd Afrikaans ondersteun, het as die hoofborg aan boord gekom. 

“Mens kan net so lank probeer voor bly en beplan, en van die manne het groot families met kinders waarvoor daar kos op die tafel moet sit. Daarom is dit vir my ’n voorreg om saam met ’n klomp van my kollegas hierdie konsert aan te pak,” het Appel vertel. 

Vir die konsert wat op Vrydag, 6 Augustus plaasvind is die volgende kunstenaars in aksie:

  • Bok van Blerk
  • Appel
  • Elvis Blue
  • Dewald Wasserfall
  • Tarryn Lamb
  • Corlea
  • Touch Of Class
  • Charlize Berg
  • Monique Steyn
  • Wilha
  • Gerhard Steyn
  • MC vir die aand: Anlia Star

Vir konsert twee wat op 13 Augustus sal plaasvind sal die volgende kunstenaars in aksie wees:

  • Ricus Nel
  • Demi Lee Moore
  • Riaan Benadé
  • Ruhan du Toit
  • Chris Else
  • Danny Smoke
  • Refentse
  • Tasha
  • Jay en Lianie
  • Martin Bester
  • Ivan Roux
  • Liezel Pieters
  • MC vir die aand: Anlia Star

Daar is geen kaartjies vir Ons Sal Self nie en word gratis aangebied – maar ondersteuners het die geleentheid om die kunstenaars by te staan en betrokke te raak:

  • Lootjies word op die op die tixsa.co.za webblad verkoop vir groot pryse wat gedurende die konsert gewen kan word. ’n Toyota Rav4 van Gys Pitzer is onder meer een van die pryse wat losgeslaan kan word. Regstreekse veilings sal ook gedurende die konsert plaasvind waar kykers vir onder meer ‘n jaar se wyn-voorraad kan bie. 
  • Kleiner besighede kan ook op ’n groot manier betrokke raak. Daar is beperkte aantal, uiters bekostigbare advertensie-pakkette. Dié advertensies word gedurende die konsert gespeel. 

Hier is al die pryse waarvoor jy ’n lootjie kan koop:

’n Toyota RAV4:

’n Pragtige en betroubare Toyota RAV4, joune vir ’n jaar. Met komplimente van Gys Pitzer Motors

n Oormaak-sessie saam met Corlea

Gratis voorkoms en styl analise deur ontwerper en voorkomskonsultant Elzaan van der Merwe van Mamilla Fashions. Stylering van hare en grimering, met ’n analise en geskenkpakkie deur Suna van Image by Suna. Fotosessie, met vier uitrustings, “Body Bronzing” plus 1 gratis kop-tot-toon uitrusting vir jouself van jou keuse (klere, skoene & juwele). Ter waarde van R 25 000.

Vyf bosveld wegbreke

’n Vier-nag midweek chalet vir twee volwassenes met kinders, of drie volwassenes ter waarde van R3500 by Haywards Game Lodge in Dinokeng Game Reserve. (Buite Seisoen).

Drie lekker Karoo-lamme

Karoo lammers, vir jou spit of sommer om te verwerk, met die vriendelike komplimente van Fines 4 U.

Sondela-wegbreek

Naweek wegbreek na Sondela Akasia 203.Ses bed, drie slaapkamer chalet. Met die komplimente van Fines 4 You.

Kyk uit vir meer besonderhede rondom al die items wat gedurende die konsert opgeveil gaan word.