FOTO: Verskaf
Die sanger en aanbieder, Lee Scott, en sy Nederlandse vriend Ryan Claud het onlangs kragte gesoer om ’n Engelse kreet op te neem. Todo El Mundo beteken almal, dus is die liedjie gerig op almal – van oud tot jonk om ’n goeie tyd te hê.
“Dit is iets heeltemal anders as wat ek al ooit gedoen het, omdat dit ’n baie sterk Spaanse gevoel en klank het, maar dis beslis ’n lied wat almal gaan laat wil dans,” verduidelik Lee oor Todo El Mundo – Dancing In The Street.
Die lied vertel hoe musiek ons almal saambring. Hoe musiek dinge vir ’n oomblik beter kan maak. Die lied het ’n aansteeklike ritme wat verseker dat jy net jou voete wil beweeg. “Ek dink met die pandemie wat ons almal so hard tref is dit nodig vir musiek om ons ’n bietjie weg te neem van die realitiet af.”
Die lied het per toeval in Lee se hande beland… “Lang storie kort… Ryan Claud het my vroëer die jaar geskakel en gevra of ek die liedjie saam met hom wil opneem. Omdat Ryan in Nederland is, en ek in Suid-Afrika is die lied in twee verskillende dele van die wêreld opgeneem en 80% daarvan in Pretoria vervaardig. Ek ken Ryan al van 2013 af en ons het goeie vriende geraak oor die jare. Toe hy die lied vir my aangestuur het, kon ek nie nee sê.”
“Ons almal soek altyd na een of ander lied wat die oomblik beter kan maak. En dis presies wat dié lied doen.”
Lee Scott is bedags doenig as stemafrigter by sy sangskool Lee Scott Studio. Hy is ook welbekend as aanbieder van die SABC 2-program, Kliphard.