FOTO: Picture Me & U
Lucinda se eerste solo-album, Uitgeskryf, is pas vrygestel en ons het met haar daaroor gaan gesels.
Vertel ons meer van jou eerste solo-album.
Dit is my heel eerste solo-album, waarop ek baie trots is. Die liedjies is geskryf tussen 2019 en 2020 en die hele proses het begin as ’n kombinasie van kortverhale, gedigte, liedjies en toe later tekeninge – wat die rede is vir die tema Uitgeskryf. In sommige liedjies het ek so paar gedigte ingesit; sommige vertel ek en sommige is in die liedjie self met ’n melodie by ingemeng.
Wie het die snitte op die album geskryf?
Ek het al die lirieke en melodieë geskryf, maar ek en Wesley van der Westhuizen het die musiek saam geskryf.
Waar het jy inspirasie geput vir hierdie album?
Deur persoonlike ervarings van die afgelope twee jaar. Ek skryf maar altyd uit persoonlike ervarings. Dit voel vir my dan eerlik en eg.
Is daar enige liedjies wat vir jou uitstaan op die album?
Ek sukkel om een te kies aangesien my gunsteling konstant verander. Ek is natuurlik mal oor Ons is Ons omdat John-Henry Opperman daarop sing – wat nog altyd ’n droom was. Meer as die Reën lê baie na aan my hart. Die lirieke is hartseer, maar die melodie vertel ’n ander storie. Dit is geskryf oor iemand wat afgesterf het – wie mens so oneindig en diep mis – maar mens kan nie help as om die herinnering van hul liefde aan jou te wil vier nie.
Watter liedjie dink jy sal die publiek die meeste geniet?
Dis moeilik om te sê aangesien die liedjies nogal verskil – ek hoop hulle geniet die hele album.
Vertel ons meer van die produksie span wat aan die album gewerk het.
Ek en Wesley van der Westhuizen het die album vervaardig en hy het amper al die musiek instrumente gespeel – hy is ongelooflik! Ons het in Bouwer Bosch se studio opgeneem. Die album is toe na Peach van Pletzen vir mixing en mastering. John-Henry Opperman feature op Ons is Ons, en Mila Guy op Jou Grap. Marie-Louise Pretorius het tjello gespeel op Kwaadpraat (een van my gunsteling op die album).
Wat maak jou opgewonde oor die album?
Aangesien dit my eerste solo-album is, maak alles daarvan my opgewonde. Die proses was van onskatbare waarde en het my geinspireer om nog te skep. Die mense met wie ek gewerk het en die verhoudings wat aangeknoop is maak my opgewonde. En dan sien ek natuurlik baie uit om te hoor wat mense dink daarvan. Ek is ook opgewonde om die musiek live te doen (met gedigte en kortverhale tussendeur) sodra ons weer kan.
Hoe het die Covid 19 pandemie jou siening van die musiekbedryf verander?
Ek was gelukkig om al ’n rukkie terug te begin werk aan my loopbaan as balpuntpen kunstenaar en ook Pilates instrukteur. Met die pandemie het ek net weer besef hoe belangrik dit is om as musikant meer as een inkomste stroom te hê. Dit help sou daar enige onverwagse kansellasies wees (soos die afgelope twee jaar), en dit gee vir my persoonlik spasie om musiek te maak wat ek graag wil.
Hoe maak jy seker dat jy relevant bly?
Ek was nog nooit iemand wat regtig te veel aandag gee aan modes en giere nie. Ek sukkel daarmee en voel altyd een stappie agter die res. Ek skryf wat ek voel en probeer musiek maak wat ek geniet en wat vir my lekker is om te hoor. Met die album het ons baie aandag gegee aan wat die liedjies die beste sal dien – soms is dit beter om iets eenvouding te hou (soos met ‘Engele Kom’ wat slegs stem is, of ‘Kwaadpraat’ wat slegs klavier, tjello en stem is). Ander kere het ek kanse gevat met baie stemme en synth en dinge.
Enige boodskap wat jy vir jou ondersteuners het?
Musiek is daardie een ding wat mens se bui onmiddelik kan verander. Dit kan baie kosbaar wees in moeilike tye soos dié waarin ons onsself bevind. Ondersteun kunstenaars en musikante deur hul musiek af te laai en hulle te tag as jy ’n liedjie luister wat jou gelukkig maak of troos. Laat musikante en kunstenaars weet hoe waardevol hul kuns is en wat hulle beteken in ’n tyd waar dit maklik is om mismoedig te raak aangesien daar nie optredes plaasvind nie.
- Luister Uitgeskryf nou op digitale musiekplatforms soos Apple Music, Spotify of Deezer.