Zybrandt gesels met ons oor nuwe liedjie ‘Kamoefleer’ en toekomsplanne

FOTO: Verskaf

Zybrandt het onlangs sy nuwe liedjie Kamoefleer vrygestel. Ons het met hom daaroor en nog wat gaan gesels… 

Vertel ons van die tema van jou nuwe liedjie Kamoefleer.

Dit gaan oor die wêrelde in my kop. En hoe ek soms terugtrek daarnatoe wanneer dinge te veel raak. Meeste mense het hul eie plekkie in hul gedagtes waar hul vrede vind. Myne is onder ’n wilgerboom, lanks ’n rivier op ’n plaas in ’n klein dorpie in die Klein Karoo.

Die video van Kamoefleer het sowat drie maande geneem om te maak. Dit bevat vele fasette – hoe het die idee onstaan en hoe het julle gewerk om dit te maak?

Ek werk al baie lank saam met Jeremy Farber. Hy is ’n kunstenaar van die Suidelike Voorstede van Kaapstad en het al internasionale sukses behaal met sy tekeninge. Ons het al ’n tydjie gepraat daaroor om kuns te inkorporeer by my musiek en toe Kamoefleer tot bestaan kom het die idee van n avontuur animasie net sin gemaak. Dit was die eerste keer dat hy die styl en ook animasie probeer het en ek dink hy het ’n fenomenale produksie aanmekaar getoor.
Ons het ’n hele paar kostuums by Annies Waredrobe Rentals gaan huur en ek moes in die studio voor ’n wit skerm rondspring waarna ons my frame vir frame uitgesny het. Dit was omtrent sports. Jeremy het toe al die res geteken. Dit het hom drie maande geneem waarin hy nie veel kon slaap nie. Wanneer hy weer wakker word sal ek vir hom sê watter goeie werk hy gedoen het.

Hoe werk jou liedjieskryf proses?

Dit voel soms of elke oomblik van elke dag deelvorm daarvan. Maar dit begin gewoonlik by ’n gevoel wat dan in ’n melodie in vloei en dan val die woorde in plek. Soms sal ek vir weke lank rondstap met die melodie in my kop en dan bietjie vir bietjie die woorde neerlê soos dit na my toe kom. Ek vind dat die beste liedjies die is wat sommer op een slag uit vloei. Soms vat ek ook die pad vir ’n paar dae na ’n still plekkie sonder sein of elektrisiteit.

Wat inspireer jou om liedjies te skryf?

Dit het begin as ’n wegkruipplek van die wêreld, en toe verander na ’n obsessie later in my lewe. Ek het nog altyd gevoel asof ek die lewe van agter ’n skerm sien. Soos om in ’n houthutjie langs ’n dam by ’n wildreservaat te sit. En daarvanaf te kyk hoe die wilde diere in hul daaglikse roetines mekaar rondjaag. So, die inspirasie agter die liedjies is eenvoudig, maar die wêreld om my, hoe ek dit sien, en hoe niks vir my sin maak nie.

Hoe lyk ’n tipiese dag in die lewe van Zybrandt?

Ek is 6:30 op om my vyftienjarige wakker te maak vir skool. Dan koffie vir my vrou, dan begin ek my driejarige wakker maak (as hy nie alreeds 5:00 op was nie) om hom reg te kry vir skool. Die res van die dag word in die studio spandeer, of agter die rekenaar besig met bemarking, sosiale media, en toer idees saam met my span oor Zoom. En tussen deur al die geraas kry ek darem ook so nou en dan tyd om my guitar te vat en ’n bietjie musiek te maak. So 16:30 tel ons weer die kinders op en dan begin die aand shift van huiswerk, die kleintjie deur die bad kry en al die chaos wat daarmee gepaart gaan. Ek moet sê, ek kan nie vir ’n voller lewe vra nie.

Wat is die beste raad wat iemand jou al gegee het?

My pa het eenkeer vir my gesê “TE veel van enige iets is verkeerd. Selfs TE lief.” En die ander een reëltjie wat elke nou en dan by my opkom is “dit is wat dit is”. Ek oordink en oorvoel gewoonlik meeste dinge in my lewe. So daai een het my al ’n paar keer gehelp om vorentoe te beweeg.

Wat maak jou gelukkig?

Cuddles in die winter, sonstrale na die reën, Hartenbos se sand tussen my vingers. En daai oomblik van stilte voor ’n applous wanneer die gehoor saam met my hulself in ’n liedjie verloor het.

Wat beplan jy vir die res van die jaar?

My span en ek is hard besig om te werk aan ander maniere wat ons vertonings kan doen. Een van die min goeie dinge wat ons huidige situasie vir ons bied is die geleentheid om nuwe goed te probeer m.b.t. shows en hoe ons die nuwe musiek met die wêreld deel. Ons is ook besig om te kyk of ons ’n toer na die Noorde kan inwerk vir later in die jaar. Die EP gaan einde Augustus se kant uitkom en ons beplan nog ’n video of twee vir van die ander liedjies daarop. Ek is ook besig om aan ’n nuwe akoestiese-album te werk wat ons binnekort gaan begin opneem by die nuwe ForTomorrowStudios. Dan beplan ek ook om ’n bundel uit te bring met gedigte en lirieke wat ook gepaart sal gaan met van Jeremy se kunswerke. Ek sien baie uit na die pad vorentoe.

  • Bly op hoogte van Zybrandt se doen en late op Instagram, Facebook en Twitter of besoek www.zybrandt.co.za.