Lucinda stel nuwe musiekvideo, enkelsnit bekend

FOTO: Verskaf

Sanger, liedjieskrywer en kunstenaar Lucinda (bekend as hoofsanger van die Afrikaanse groep, Die Melktert Kommissie stel vandag ’n splinternuwe enkelsnit vry: Ons is Ons, ’n samewerking met John-Henry Opperman van Klopjag. Die enkelsnit is die eerste amptelike vrystelling vanaf haar debuut solo album, Uitgeskryf wat in Julie vrygestel word.

Ons is Ons is vroeër in 2020 geskryf en handel oor twee mense wat in ’n onstuimige tyd in hul lewens, veilig voel by mekaar en ’n rustigheid vind in mekaar se aanwesigheid. Lucinda en John-Henry is al jarelange vriende sedert die dae toe Die Melktert Kommissie en Klopjag saam getoer het (Die Tertjag Toer), en as ’n groot aanhanger van sy skryfwerk en stem, was hy ’n natuurlike keuse vir ’n samewerking.

“Aangesien John-Henry op Ons is Ons feature, het ek besluit dit moet eerste gehoor word. Ek is so opgewonde daaroor. Toe ons saam getoer het, het ons altyd op mekaar se songs gesing by optredes. Ons girls in Die Melktert Kommissie het selfs ’n dansie op Skree, een van Klopjag se treffers. Ek het ook in hul Live DVD by Aardklop gefeature – en ons het net nooit iets opgeneem waar hy feature by ons nie. Ek moes net die kans neem en hom vra – en dit het in my opinie baie mooi uitgedraai,” sê Lucinda.

Lucinda dink in prentjies wat sy dan neerpen, met die gevolg dat luisteraars visuele lirieke ontvang reeds deur haar gesien. By ’n groot gedeelte van haar werk is die maan, see of een of ander aardse element betrokke as hoof inspirasie vir haar musiek.

“Enige iemand wat verlief is of ’n hegte konneksie met iemand deel, sal kan aanklank vind by Ons is Ons.

Die musiekvideo vir Ons is Ons is in Mei vanjaar deur Media Farm geskiet met John-Henry aan die stuur van regie. Die konsep van kleur gekombineerd met die idee dat twee mense in die video konstant dieselfde kleure dra, maar selde op dieselfde tyd, weerspieël die feit dat mense altyd op hul eie wentelbaan is en belangstel in hul eie dinge, maar soms kruis hul paaie op die regte tyd.

“Die kleur verteenwoordig visueel die raakpunte tussen mense se lewens by sekere tye, maar ook hoe dit mekaar mis in ander tye. Dit was die beweegrede agter die verskillende klere in die verskillende kleure.” 

John-Henry vervaardig media en musiekvideos en voel baie keer, veral in Suid-Afrika, is konsepte nie sterk genoeg wanneer dit kom by stories vertel nie; mense probeer stories vertel deur om stories voor ’n kamera te sit. Dit was belangrik vir die duo om ’n sterk konsep te hê en dit dan eenvoudiger te vertel.

“Die video pas mooi by Ons is Ons… Deur terug te kom na die eenvoud van voel in stiltes en dan te reageer daarop, kan mens rustiger wees langs iemand anders.”

Kyk die musiekvideo hier: