FOTO: Altin Ferreira
Janie Bay is terug met haar tweede Afrikaanse album, PRISMA. Ons het by dié blondekopsangeres gaan inloer om daaroor te gesels…
Vertel ons meer van die tema van jou nuwe album Prisma.
Terwyl ek besig was om die album te verwerk het ek baie gedink aan hoe mense nie net een-dimensioneel is nie en dat daar soveel verskillende fasette tot ons is en só is dit ook vir my met my musiek. Mense sal gereeld vir my sê my musiek is “anders” of “vars vir Afrikaans” en terwyl ek nog ’n titel gesoek het vir die album het ons geshoot en gewerk aan my album cover foto’s en Altin Ferreira, die fotograaf, het gesê hy gaan ’n effek probeer op die cover foto en hierdie effek se naam is “Prism” en dit maak dit lyk of daar nog twee van my is aan beide kante van my gesig, net bietjie meer deurskynend. Ek het bietjie gaan oplees oor die betekenis en in gewone termes kan die woord gebruik word om “iets in ’n ander lig te sien” en toe pas die Afrikaanse woord Prism vir my perfek by die algehele storie van die album. Elke liedjie het sy eie “vibe” en boodskap, maar tog kom dit mooi saam bymekaar.
Hoe werk jou liedjieskryf proses?
Elke een is maar anders. Soms begin ek eers met die musiek en skryf dit self in my home studio op my “software” en kry ’n idee van die chord progressions en dan begin ek melodies by sit en daarna lirieke. Soms kry ek eers melodies en lirieke in my kop en dan vat ek dit na my kitaar of software toe en werk die musiek uit wat saam met dit pas. Samewerkings sit ons soms saam of ek skryf of stuur idees via WhatsApp. Die proses is nooit dieselfde nie wat vir my lekker is. Dit hou dinge opwindend.
Wat inspireer jou om liedjies te skryf?
Allerdaagse ondervindings, persoonlik en van die mense rondom my. Ek probeer om so eerlik as moontlik te skryf sodat mense wat dit luister kan “relate” en dat dit hopelik mense kan help deur moeilike tye en dan ook mense kan laat dans en goed voel.
Hoe lyk ’n tipiese dag in die lewe van Janie Bay?
Ek staan gewoonlik vroeg op en maak koffie en gaan dan gym toe. Dis ’n goeie gewoonte van my wat ek al 15+ jaar kon behou (gelukkig) en dit help om my dag goed af te skop. Daarna sal ek usually bietjie admin doen en breakfast maak. Ek sal werk aan social media goedjies, soms moet ek na besighede toe gaan wat my sponsor en content maak en edit ens. Daar sal altyd tyd uitgesit word vir either skryf of rehearsing deur die dag. Ook tyd vir iets lees/leer. Soms het ek onderhoude met radio of TV en ander promo werk. Shows is min nou, maar dit het gewoonlik ’n groot gedeelte van ons dae opgeneem om te reis en te gig. Dit sal ook weer kom.
Wat is die beste raad wat iemand jou al ooit gegee het?
In my loopbaan, ek weet nie of iemand dit vir my gesê het nie en of ek dit net iewers gehoor het toe ek baie jonger was nie, maar ek het geweet van baie jongs af om regtig te LUISTER. Om met intensie te luister na musiek, hoe mense sing, wat gebeur als in ’n liedjie. Hoe klink die beat? Waar haal die sanger asem? Die fynste geluidjies in ’n liedjie… Ek glo dit het my verskriklik baie gehelp deur my lewe met musiek. Op ’n persoonlike level… My ma het altyd saam met ons gebid toe ons klein was en sy het ’n punt daarvan gemaak om dankie te sê vir elke klein en groot dinge wat ons het. Dit het dankbaarheid in my geanker. Ek is gelukkig met min en ek bly naby aan wat regtig belangrik is soos familie en naby-vriende en om te help waar mens kan. Ook om vriendelik te wees soveel as moontlik met ander. Mens weet nooit wat iemand ander regtig deur gaan binne hulle nie.
Wat maak jou gelukkig?
Om tyd te spandeer saam met my kêrel, familie en vriende. Om te kan sing. Om te kan skryf en liedjies uit sit wat mense mee kan relate (dit is baie fulfilling en ’n groot “calling” vir my op my lewe). Om aktief te wees, in natuur te stap en by die see. Om te glimlag met iemand en iemand opreg te komplimenteer. Om die sonopkoms en sonsak te kan beleef. Somer. Om te kan swem.
Wat beplan jy vir die res van die jaar?
In hierdie tye is dit maar moeilik om te beplan. Ek sal fokus op om enkelsnitte van PRISMA uit te ryk (hopelik met musiekvideos). Daar is een of twee ander moontlike projekte wat ek mee gaan begin, maar dis nog in die beplannings fase. Ek wil baie graag ’n pilateskurses doen hierdie jaar nog. Ook vir ’n paar ander kunstenaars skryf wat my benader het.