FOTO: Verskaf
Die vyf-en-dertigjarige sanger en liedjieskrywer, Emile Welman wat in Pretoria gebore is en tans in Newport Beach, Kalifornië woon is geen gewone kunstenaar is nie. Loer jy so bietjie na sy Instagram-profiel kom jy baie vinnig agter hierdie “crooner” braai saam met Clint Eastwood, kuier by Charlize Theron en hang uit saam met ’n rits ander internasionale bekendes – ’n lewe van styl en swier, nét soos in die flieks! Kyk jy bietjie nader sien jy dit – Overtone – en vir jou Suid-Afrikaanse brein maak alles skielik sin!
Emile wat na skool ’n beurs gekry om Regte te studeer by RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) het gedurende daardie tyd sy passie vir musiek ontdek, met sy praktiese opleiding as prokureur begin en die groep – Overtone – gestig. Na ’n optrede in Kaapstad, het hulle die oog gevang van die legendariese akteur en regisseur, Clint Eastwood, se vrou, Dina Eastwood. Sy was so beïndruk met Emile se stem en die groep se kragtige verhoogoptrede, dat sy hulle aan haar man voorgestel het. Dit het hom laat besluit om die groep te gebruik op verskeie snitte op die klankbaan van sy 2009 rugbyrolprent, Invictus. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.
As deel van Overtone, het Emile die voorreg gehad om saam met mense soos die Oscar-wenner Charlize Theron, hoteleienaar Steve Wynn, en die musiek-ikoon Tony Bennett (wat Emile se stem met die van Frank Sinatra vergelyk het) te werk. Verder het hulle ook die verhoog gedeel met OneRepublic, Grammy-wenner Corinne Bailey Rae, akteur Kevin Bacon, en vervaardiger David Foster. Die groep het ook op The Ellen DeGeneres Show, The Late Late Show with Craig Ferguson en Lopez Tonight verskyn en verskeie Suid-Afrikaanse VONK-musiektoekennings gewen.
Maar nou het die tyd aangebreek vir dié Suid-Afrikaanse sanger, liedjieskrywer en komponis, om sy eerste Afrikaanse solo-enkelsnit, Sprokiesland, vry te stel en hiervoor het hy spesiaal Suid-Afrika toe gereis. In die verlede het hy wel musiek vrygestel as deel van die groep, Overtone. Internasionaal het hy drie enkelsnitte in die VSA en een in Australië uitgereik. “My styl hang af van die liedjie wat ek vrystel,” verduidelik hy. “Elke land se musieksmaak verskil en jy moet by daardie mark aanpas. Ek het dus al alle tipe genres gedoen, van pop tot jazz, kletsrym en nou is dit tyd vir my eie taal – Afrikaans.”
Hierdie indrukwekkende pop-ballade vertel die storie van ’n paartjie wat ’n romantiese afspraak op die strand het. Hulle bly laat uit en die man besef dat sy die een is. Dit is ’n vars briesie in die Afrikaanse musiekmark, met ’n lekkerluister-wysie en pragtige storie en Emile Welman se stem gaan jou asem wegslaan!
Emile deel dat sy pa die inspirasie agter die liedjie was. “In Julie 2019 is my pa met fase vier Lewerkanker gediagnoseer. Op daardie stadium het ek reeds vir tien jaar in die Amerika gewoon en slegs een of twee keer per jaar in Suid-Afrika kom kuier. My pa was mal oor Afrikaanse musiek en ek wou iets skryf waarvan hy sou hou en sou waardeer. Iets waarna hy kon luister en op trots wees. Ek het dus die liedjie geskryf in die hoop om dit so gou as moontlik op die radio te kry. Ongelukkig het my pa se toestand drasties verswak en hy is in Februarie 2020, terwyl ek op toer was in Australië, oorlede. Hy het nooit die liedjie gehoor nie, maar ek is vasberade om hom steeds trots te maak.”
Sy solo-loopbaan het in 2012 afgeskop. Sy eerste enkelsnit, Love Away, is in 2013 vrygestel, nadat hy by verskeie universiteitskonserte regoor Los Angeles opgetree het. Hy het ook in dieselfde jaar Best of Me uitgereik en in 2016 Just a Little More. In 2015 het hy aangesluit by die Crooner’s Club in Kalifornië saam met Hugh Sheridan en Gabe Roland, waarna hulle na Australië getoer het. Meer onlangs is hy bekroon met die Beste Nuweling– en Algehele Beste Kunstenaar-toekennings by die wêreld se tweede grootste musiekfees in Australië.
Alhoewel hy konstant nuwe musiek skryf en komponeer, is die sanger ook besig om ’n televisiereeks vir FOX in Amerika te verfilm. Hy werk ook aan die klankbane van verskeie nuwe rolprente en sien uit daarna om, nadat Covid bedaar het, weer te reis en regoor die wêreld op te tree.
Buiten daarvoor om hulde te bring aan sy oorlede pa, hoop Emile ook dat Sprokiesland hom sal help om jongmense te inspireer. “Ek dink baie kinders word groot met die idee dat die wêreld slegs bestaan uit die dinge rondom hulle. Aan hulle wil ek bewys dat harde werk, selfdissipline en motivering hulle wêreld meer kan verbreed as wat hulle ooit sou kon droom. Jy kan wees en bereik wat jy graag wil.”
Met sy uitmuntende verhoogpersoonlikheid, strelende stem en unieke klank, gaan Emile beslis nog vir ’n lang ruk aanhou om plaaslike en internasionale gehore te bekoor en ons is trots om hom vir ’n rukkie terug in Suid-Afrika te kan hê.
’n Musiekvideo vir Sprokiesland sal teen die begin van Julie 2021 uitgereik word.
- Sprokiesland is nou op digitale platforms beskikbaar. Laai dit hier af.