FOTO: André Badenhorst
Die jaar 2021 sal onthou word as die jaar toe Francois van Coke in die bokskryt geklim het om die gewese Springbok-rugbyspeler Derick Hougaard te pak vir die Boxop-titel. Francois het na ses aksiebelaaide naelbyt-rondes geseëvier. Boonop is die geveg, wat op 29 Mei in die Sun Arena in Pretoria plaasgevind het, in uitgesoekte NuMetro filmteaters gebeeldsend asook aanlyn.
Na sy oorwinning het Francois besluit om dié lied te skryf. Queen se We are the champions het dadelik aanklank gevind by die rockster…
Francois het toe by Hunter Kennedy en Fred den Hartog gaan aanklop vir die skryfsessie. “Ek wou die woorde – ‘Ons wen’ en ‘Ons is lewendig’ gebruik, want terwyl boks my baie gemotiveer het, het ons as homosapiens wat saam deur hierdie Covid-era kom, my ook geïnspireer,” vertel Francois.
“So, dit is ’n song oor ’n uitdaging wat jy in die gesig staar, vasbyt en aan die ander kant uitkom,” sê Francois.
Ons het gewen was vyf weke voor Francois se Boxop-oorwinning klaar. Hy verduidelik dat “omdat die song se naam ‘Ons het gewen’ is, was ek nog meer vasberade om te wen en die song het my gedwing om nog harder te werk en beter te prepare vir die fight. Musiek en boks wat saam smelt. Mal tye inderdaad. Maar Rock ‘n’ roll sal altyd seëvier!”
En wat sou Francois doen as hy nie die geveg gewen het nie? “Indien ek verloor het, sou ek die song iets anders genoem het en sou ek die release skuif tot later,” vertel Francois.
Die regisseur en kinematograaf, Johannes Nel, het die musiekvideo in ’n dokumentêre styl verfilm en dek Francois se voorbereiding vir die Boxop geveg, sowel as die Boxop geveg self.
- Ons het gewen kan nou op digitale musiekplatforms gestroom word.
Kyk die musiekvideo hier:
