FOTO: Willem Botha
Appel se vierde album, Hardwerkende Man, volg in die suksesvolle voetspore van sy vorige albums Lei my na die water, Boer loop deur my are en Patriot. Hierdie album wat bestempel word as Appel se “beste werk tot op hede” is vanaf vandag 11 Junie op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.
“Gebed, gebed, gebed.” Só maak Appel seker dat die nuwe produk wat hy lewer steeds kan kompeteer met sy vorige werk. “Ek verander ook nie sommer aan die span saam met wie ek werk nie. Dis vir my belangrik om nie te karring aan iets wat werk nie. Ek luister ook na wat mense wil hê – bv. met Dina en Nonna het ek geluister wat die uitskieter is en meer op daardie kuier-element gefokus.”
Appel sê dat mense se stories – goed of sleg – en alles wat God geskape het sy musiek inspireer. “Ek suiwer gewoonlik oomblikke, want ek weet nooit wanneer ek dit weer gaan nodig kry nie.”
LEES OOK: Appel se klankbaan vir die ‘hardwerkende man’
Die musiekvideo vir Hier Sal Jy Boer, die eerste enkelsnit vanaf die nuwe album, is ook pas uitgereik. “Die konsep vir die video is totaal en al oor hoop. Solank as wat ons oë gefokus is op die Here is niks onmoontlik nie. Dis wat ek nog altyd in my lewe geglo het en ek is seker die boere sal dit so verstaan,” verduidelik Appel.
Kyk die musiekvideo hier:
’n Duet met Ricus Nel is ook op dié album te bespeur en Appel bieg dat hy opgewonde is oor hierdie liedjie… “’n Boer is ’n Bok – dit gaan daaroor dat jy ’n boer net sover kan druk en dit is maar in ons bloed. As jy hom net ’n bietjie gaan druk gaan hy tienkeer harder druk. Ons is mos maar ’n hardkoppige spesie en hou daarvan om dinge op die harde manier te doen,” lag Appel.
Vra jy vir Appel of hy ’n gunsteling op die album het, antwoord hy dadelik: “Hierdie sal die eerste album wees waar ek nie ’n gunsteling het nie. Alhoewel Monoloog my na aan die hart lê. Ek dink liries gewys is dit van my beste werk nog.”
Hardwerkende Man is die eerste produk uit Appel se platemaatskappy Appel Musiek in samewerking met Coleske Artists. Hierdie platemaatskappy is een van Appel se grootste drome wat waar geword het. “Ek dink wat mense kan verwag van die maatskappy af is, is alles wat vir my eg en na aan die hart is. Dit wat jou trots Afrikaans maak. Dis groot en deels musikante wat hul eie musiek skryf of saam met my skryf. Dit gaan baie meer organies wees. Die wat na my musiek luister, sal beslis aanklank vind by die kunstenaars van Appel Musiek se musiek,” vertel Appel meer.
En as Appel ’n boodskap aan sy getroue gehoor kan gee, wat sal dit wees? “My boodskap aan al die Nonnas, Dinas, Boskinders, Jagters en boere is letterlik net… Sonder julle is niks van hierdie moontlik nie, en sonder die Here is ons nie moontlik nie. En ek dink ons almal waardeer dieselfde goed en dis hoekom die ondersteunings basis so ongelooflik is want ons siele is op dieselfde ‘netwerk’.”
- Luister nou Appel se vierde album op jou gunsteling digitale musiekplatforms soos Apple Music, Deezer of Spotify.