FOTO: Verskaf
Aan die einde van 2020 het Fokofpolisiekar hul elektriese kitare ontkoppel en oorgeskuif na hul akoestiese instrumente om ’n regstreekse stroomkonsert te lewer wat heeltemal anders was as hul gewone eksplosiewe klank.
Kykers en die gehoor was getrakteer met Fokofpolisiekar liedjies soos hulle nog nooit gehoor is nie – The Sound of FOKOF Unplugged… en hierdie rariteit is opgeneem op ’n “live” album.
The Sound of FOKOF Unplugged is vasgevang by die bekende kunstenaar, Lionel Smit, se studio in Somerset-Wes op ’n lui-lekker Sondagmiddag met ’n braai buite aan die gang en Fokof Lager wat gevloei het. Die groep was omring deur familie, vriende en VIP gaste wat lekker saamgesing het op hul gunsteling Fokofpolisiekar liedjies.
Dane Taylor het die liedjies regstreeks daar opgeneem en het die finale meng by sy studio in Kaapstad behartig. Tim Lengfeld het die liedjies gemeester.
Dit is maar altyd ’n familie affêre met Fokofpolisiekar. Die groep het hul ondersteuners op sosiale media gevra om liedjies vir die regstreekse stroomkonsert voor te stel, wat gelei het tot hierdie snitlys vir die album.
’n Musiekvideo, Teen die Wet, is ook onlangs bekendgestel. Hierdie musiekvideo is ’n aangrypende kombinasie van Fokofpolisiekar se “live” opvoering van Teen die wet, verweef met foto’s deur Albert Retief en is ’n besonderse tydkapsule.
Reisiger en sosiale dokumentêre fotograaf, Albert Retief, het einde 2019 ’n draai kom maak by sy familie in Bellville. Die COVID-19 grendeltydperk het sy nomadiese leefstyl ingeperk. Hy het besluit om sy ervaringe, frustrasies en gemeentskap in sy tuisstad te dokumenteer.
**Fokofpolisiekar dra hierdie musiekvideo op aan die afgestorwe fotografie legende, Henry Engelbrecht wat op 10 Mei 2021 aangestap het.
HIER TREE POLISIEKAR OP…
20 Mei by Daisy Jones Bar at OMG (Geen onder 18’s)
Adres: Summerhill Wines, R44, Stellenbosch
Deure maak oop: 5pm
Tyd: 8pm
Kaartjies: http://bit.ly/unpluggedct

22 Mei by Loftus Park, Pretoria (Geen onder 18’s)
Hekke maak oop: 12h00
Program:
1:30pm Kiash
2:15pm James Deacon
3:15pm Ruiter Piet
4:30pm Fokofpolisiekar
Kaartjies: https://www.howler.co.za/events/the-sound-of-fokof-unplugged-live-612b/tickets

