Appel se klankbaan vir die ‘hardwerkende man’

FOTO: Willem Botha

Die gewilde Afrikaanse liedjieskrywer en sanger Appel is na drie albums terug met ’n nuwe album, wat aanhangers nie net gaan laat partytjie hou nie, maar ook ’n deel van hom sal laat leer ken wat min mense tot dusver die geleentheid gekry het. 

Soos Appel dit beskryf is sy splinternuwe vollengte album getiteld Hardwerkende Man die klankbaan vir die ou wat nie maklik oor sy gevoelens praat nie.

“Die album is vir die ou wat nie weet hoe om sy emosies in woorde uit te druk nie, maar wat na my musiek luister en dit laat resoneer in sy eie hartsgange,” sê Appel oor sy jongste ateljeealbum.

Die album volg op sy drie vorige suksesvolle ateljeealbums getiteld Lei my na die water, Boer loop deur my are en Patriot. Volgens die kunstenaar is Hardwerkende Man sy persoonlikste album nóg.

Hy verduidelik dat die titelsnit Hardwerkende Man, wat op 28 Mei as IG (Instant Gratification: ’n snit vanaf die album wat vooraf op stroomdienste beskikbaar gestel word) uitgereik word, deur sy ma se stories oor sy oupas geïnspireer is.

“Albei my oupas het vir die staat gewerk en Sondae kerk toe gegaan. My ma se pa, Albie Kruger, was destyds ’n bokser en rugbyspeler vir Iscor en was betrokke by Blou Bulle-rugby. Hy was ’n geharde, konserwatiewe man wat geglo het dit is nie manlik om oor jou gevoelens te praat nie.

“Tog het hy soveel emosie in hom gehad dat hy selfs koor gesing het. In die kort rukkie wat hy my geken het, was hy trots op my en hy wou hê ek moet ’n man van inbors wees.”

Sy pa se pa, Christoffel Wentzel Kotzé, het op die spoorweë gewerk en was die vredeliewende een, vertel hy.

“Sy grootste droom was om ’n boer te wees, maar hy het nooit geld daarvoor gehad nie. Op sy groot burgererf in Pretoria-Wes het hy egter die mooiste druiwepriële, vrugteboorde en hoenders gehad en soms het hy perde gespeel en gehoop hy wen geld om grond mee te kan koop.”

Volgens Appel, wat homself oor die afgelope 11 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig het as befaamde musikant en liedjieskrywer, het sy oupas in sy lewe belê met gebed en goeie wense vir sy toekoms.

“Ek wonder altyd met ’n vertoning wat hulle sou sê as hulle my só op die verhoog kon sien, want hulle speel ’n baie groot rol in my uitkyk op die lewe. Ek dink ek het ’n goeie balans van albei my oupas in my.”

Appel vertel dat hy deurgaans die Here se hand in die skryfproses van Hardwerkende Man kon aanvoel. “Ek verheerlik Sy naam oral waar ek gaan, want Hy het my ’n tweede kans op die lewe gegee. As jy na die album luister, sal jy dit duidelik hoor. Daar is net een God en ek kan nie anders as om oor Hom te skryf nie.”

Die Christelike ondertoon is egter nie só sterk dat dit soos ’n gospelalbum klink nie, voeg hy by. “Dit is beslis die klankbaan vir die werkende man. Met hierdie album wou ek ’n stem gee aan die ou wat nie maklik oor sy gevoelens praat nie; die ou wat na my musiek luister en dit laat resoneer in sy eie hartsgange.

“Baie boere het my al gevra hoe kry ek dit reg om woorde neer te skryf op swart-en-wit, en hulle kan dit nie beskryf nie, maar dit is presies wat hulle voel. Ek voel dit is wat ek met hierdie album reggekry het. Ek wil die luisteraar op ’n ongelooflike reis neem.”

Hy vertel sy vrou, Sally-Ann, het gereeld bekers koffie aangedra terwyl hy die album geskryf het. “Daar het soveel denke en kreatiwiteit in die album gegaan. Ek het op een aand sewe liedjies geskryf, want die inspirasie het net gevloei.”

Hy wou met die snit Hier sal jy boer, wat op 14 Mei digitaal as IG uitgereik word, die boere van die land moed inpraat.

“Ek het toe besef dit gaan nie oor wat ék sê nie, want ek is net van vlees en bloed. Ek het begin wonder wat sou die Here wou sê vir sy mense en toe kom die woorde net. Dit is min dat die woorde net so vloei, asof die liedjie klaar geskryf was en ek moes net die woorde neerpen.”

Die liedjie Dina word op 21 Mei as IG digitaal uitgereik en sinspeel op die FAK-liedjie “Waar is my Dina?”. In Dina vertel Appel sy eie weergawe van waar Dina is.

“Die verhaal speel af in die Hantamberge en Dina was ’n goeie vrou vir haar boereman. Die liedjie vertel net soos al die ander op een of ander manier ’n storie wat weer terugkom na die boer.”

In liedjies soos Susanna en Hanna verwys hy na geliefde FAK-treffers deur onder meer frases soos ‘die Kaapse nooi sê tiengeliengelieng’ en ‘hoe ry die boere sit-sit-so’ te gebruik.

“Ek wil graag die FAK en Afrikaanse musiek weer relevant maak vir die jeug. Ek wil hê hulle moet eerder na Afrikaanse musiek luister, want ek dink dit skep ’n beter indruk op hulle.”

Hy vertel hy ontvang gereeld video’s van kinders wat op die maat van sy liedjies soos Nonna, Jagter en F250 dans. “Dit maak my hart warm en dit is vir my ’n groot seëning dat die kinders die musiek geniet, want dit beteken dat hulle ouers dit ook uiteindelik geniet. ‘Nonna’ het baie goed gedoen vir my en dit is ’n groot voorreg om so ’n groot liedjie te hê.”

LEES OOK: Appel is terug met bakkies, braaivleis en ’n F250 

Hardwerkende Man is Appel se eerste projek as kunstenaar van sy eie platemaatskappy, Appel Musiek, terwyl die album deur Coleske Artists bemark en versprei word.

Murray Lubbe het oudergewoonte die album vervaardig terwyl Paulo Azevedo en Arnold Coleske lang ure in die ateljee deurgebring het om aan die album te skaaf.

Sy debuutalbum, Lei my na die water, is in 2017 uitgereik en was dadelik ’n wegholsukses. Die titelsnit op hierdie album was no.1 op verskeie radiostasies en is geïnspireer deur ’n tyd toe Appel weens ’n lang gesondheidstryd vir drie maande in die hospitaal was.

LEES OOK: Pluk jou ‘Appel’ terwyl dit nog vars is

Sy tweede album, Boer loop deur my are, is ook baie goed ontvang. Die titelsnit het reeds meer as 3 miljoen kyke op YouTube en was op verskeie radiostasies die no. 1-liedjie.

Patriot, sy derde album, is ’n refleksie op sy Afrikaner-kultuur wat die luisteraar op ’n reis deur ’n wye spektrum van emosies – van tong in die kies humor tot pragtige boodskappe van hoop.

Hy vertel dat sy naaste vriende sowel as kenners uit die Coleske Artists-kraal glo Hardwerkende Man is sy beste werk tot op hede.

“Jou vierde album is so belangrik, want dit maak of breek jou as kunstenaar. Dit bewys jou langdurigheid in die musiekbedryf. Ek het met hierdie album soveel meer uit die hart geskryf en daarom glo ek in my hart dat hierdie die beste werk is wat ek nog ooit gelewer het.”

Kyk uit vir Appel se Hardwerkende Man wat op 11 Junie op alle stroomdienste beskikbaar sal wees. Daar word ook ’n musiekvideo vir sy eerste radio-enkenlsnit Hier Sal Jy Boer uitgereik.

  • Die eerste drie liedjies word in die volgorde op stroomdienste vrygestel: 14 Mei: Hier Sal Jy Boer, 21 Mei: Dina, 28 Mei: Hardwerkende Man