Caroline Grace roer na twee jaar die hartsnare met nuwe liedjie

FOTO: Verskaf

Ons almal het al een of ander tyd deur ’n tydperk van hartseer gegaan. Dalk het jy uitgemaak met die liefde van jou lewe en gewens dat daar net dáái een oomblik was wat julle weer kon saamwees, al moes hy jou hart van vooraf kom breek, of jy het jou lewensmaat afgestaan aan die dood en jy sal wat gee om net nog een keer daai persoon vas te hou al beteken dit jy moet hulle weer verloor.

Liefde oorheers wel altyd die seer. Die liefde wat jy het vir daardie persoon sal altyd oorwin ten spyte van die hartseer wat jy ervaar het. Alles wat julle gedeel het is sterker as die seerkry en hartseer waardeur julle is.

“Kom breek my hart nog een keer, ek het niks om te verloor,” lui die treffende lirieke van Caroline Grace se nuwe enkelsnit Breek

Caroline het self al deur hierdie emosies gegaan en daarom kon sy met egte emosie elke noot vasvang van hierdie liedjie geskryf deur Roux Cloete.

“Ek het self deur ’n groot ‘breakup’ gegaan met my ou (vandag my man) toe ons op skool was. Ek het nooit weer gedink ons sal saam wees nie en ek kon onthou hoe graag ek hom net weer wou sien en hoe graag ek net wou gehad het als moet weer normaal wees en ek sou wat gee om hom net weer in my lewe te kon hê, al het dit beteken dat my hart weer sou seerkry. Ek wou nog altyd ’n mid-tempo ballad sing wat wys wat ek met my stem gekoppel aan my emosies kan bereik. Ek wou ’n vars Caroline Grace klank na vore bring,” vertel Caroline.

Haar kenmerkerkende helder stem en emosiebelaaide benadering, is die perfekte pasmaats vir hierdie liedjie en die eindresultaat sal luisteraars van die eerste noot af in vervoering hê.

Die oud Bloemfonteiner is al sedert haar matriekjaar doenig in die vermaakbedryf. Talle kompetisies en konserte, waaronder Oprah Winfrey se gradeplegtigheid, Jy is my Liefling, Beauty and the Beast. In hierdie tyd het sy ook haar LLB-graad verwerf en die verhoog gedeel met groot kunstenaar soos ADAM, Jak de Priester, Jannie Moolman, Valiant Swart, Jannie du Toit, en vele meer. Haar deelname aan The Voice SA 2017 en ’n platekontrak met Universal Music word egter as die grootste hoogtepunt van haar loopbaan uitgesonder.

Hierdie blondekopsangeres, wat Adele, Celine Dion, Roxette, Katy Perry, Whitney Houston, Lara Fabian en Sinéad O’Connor lys as van haar grootste musiekinvloede, het nog baie drome vir die toekoms en beplan ’n landwye toer om haar nuwe enkelsnit te bemark.