FOTO: Verskaf
Sewevoet het die eerste enkelsnit vanaf sy nuwe album met dieselfde titel, Voetspore vrygestel. Die album sal later vanjaar vrygestel word.
Sewevoet, die breinkind van JP Rossouw, het reeds in 2013 sy debuutalbum, ‘Maak Sekondes Tel’ vrygestel. Vir die laaste 27 jaar vind hy medisyne vir sy siel in musiek, en skryf klanke wat beweeg in leë spasies met ’n boodskap wat verdwaal in jou denke.
Voetspore, die enkelsnit is alreeds in 2008 geskryf en is tans is sy derde en finale weergawe. Sewevoet beskryf die liedjie as ’n oomblik van helderheid uit sy eie lewe: “Die besef en verstaan daarvan dat ons nie regtig in beheer is nie. Mens weet nie altyd hoe die wind sal waai of waar jy jouself sal bevind later op jou lewenspad nie, maar die voetspore wat jy los hang van jouself af.”
As eerste indruk van Sewevoet skep Voetspore diepte; ’n fondasie vir die musiek en die boodskappe wat oorgedra word. Die liedjie self skep ’n dramatiese atmosfeer wat tussen drywende kitaarklanke en sensuele saxofoon deur vloeiende melodieë aangevul word. Die lirieke delf diep binne-in elke luisteraar se siel met die soektog na antwoorde en die onsekerheid daaraan verbonde.
Die musiekvideo vir Voetspore is in Maart 2021 deur Ebert Steyn Films geskiet op Noordhoek Strand in Kaapstad. In besprekings oor die enkelsnit en lirieke, het die vraag ‘Dink jy ons is iets anders as bloot voetspore in die sand?’ telkemale opgekom. Net soos die oseaan alle voetspore op sy strande vinnig wegspoel, so is die lewe: Vinnig verby.
Kyk die musiekvideo hier:
“Waar beter om oor die lewe te besin as tydens sonsondergang op die strand? Tussen die warboel van emosies wat die lewe bring, wou ek ook die beeldskoonheid van die natuur beklemtoon in die musiekvideo. Ons het besluit om die konsep eenvouding te hou om die boodskap wat die enkelsnit oordra, as hoofspeler in die verhaal te hou.” sê JP.