FOTO: Verskaf
Die sanger en liedjieskrywer, Wynand Strydom, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Skemerblom. Wynand, wat gehore behoorlik op hul voete beur met sy rasperstem en kragtige vertolkings van lirieke, stel weereens nie teleur nie!
Nege jaar na die vrystelling van sy laaste enkelsnit Oseaan se Blou in 2012, heers daar groot opgewondenheid oor sy eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit-vrystelling – Skemerblom.
Reeds in die openingsklanke met die besondere lirieke: “Is ’n honderd jaar genoeg, as die rigting na my roep?” wéét die luisteraar, hier kom ’n ding! Die liedjie is geskryf deur PJ Cruze en vonk van betekenis met die metaforiese beeld van geankerde liefde wat teen alle verwagting in, en ondanks uitdagings, die toets van liefde deurstaan.
Die vergelyking word getref met ’n sonneblom wat onvanpas, maar vasberade, tussen bosveldstuike en onkruid sy wortels kom vestig het. Hierdie tema word verder in die lied op ’n besondere manier en met fyn nuanses uitgebrei. Die produksie van Skemerblom, is behartig deur Ray Dylan.
Skemerblom is sopas vrygestel op alle digitale platforms en is een van daardie gespierde snitte wat spore lank na die sluitklanke van die liedjie los en ’n besliste móét vir elke oor!