FOTO: Verskaf
Jako Meyer het die finale enkelsnit vanaf sy debuutalbum, Middernag Kantoor vrygestel. Die nuwe enkesnit is getiteld Daar wil ek wees en is ’n samewerking met Deon Meiring.
Daar wil ek wees is in 2020 geskryf. Jako en Deon is al jarelange vriende as gevolg van Moses Metro Man en Glaskas se dae, en doen ook die teater vertoning, Die Wyndigters, saam. Die twee het al lank ’n behoefte gehad om saam te skryf, en het ’n gesprek gehad oor plekke waarheen hul gaan vir vrede.
“Ek was vroeg 2020 saam met Jako in studio met Daar wil ek wees. Jako wou graag hê dit moet ’n liedjie wees oor plekke – beide fisies en andersins – waar mens veilig voel en weer in voeling kan kom met jou waarheid. Ons het nie toe geweet dat ons binnekort gestroop sou word van die vermoë om te reis na sulke plekke toe met die inperking nie. Toe dít gebeur het, het die song my eintlik gehelp om nog steeds daai plekke in my gedagtes te laat leef,” vertel Deon.
Die duo fokus op sterk melodieë en lirieke om vrede te vind in hul gunsteling plekke. Daar wil ek wees begin as ’n rustige ballade, maar kring uit na wat hul albei goed ken – ’n lekker, harde koor.
“Die lewe raak vir ons almal net te veel op tye. Hoeveel te meer in hierdie tyd. Ons almal moet wegbreek – fisies, of in jou kop – om introspeksie te doen, te herlaai, en sodoende te oorleef. Daar wil ek wees,” sluit Jako af.
Kyk die liriekvideo hier: