Voortrekker-feeslied kry ’n musiekvideo!

FOTO: Dapper Media

Die Voortrekkers vier vanjaar hulle 90ste verjaarsdag en om hierdie mylpaal te vier is die spesiale feeslied, gesing deur Adam Tas, Die Spore wat Ons los, onlangs bekendgestel. Die lied word nou opgevolg deur die vrystelling van ’n pragtige musiekvideo, wat deur Dapper Media vervaardig is. 

“Die video is vervaardig in en rondom die Voortrekkermonument. Ons het soveel as moontlik eienskappe en dele van die gebou probeer gebruik. Van die tonele wat nie by die monument geskiet is nie, is rondom Pretoria verfilm,” sê Pieter Strauss (Dapper Media), vervaardiger van die video.

Conrad Theron, ook van Dapper Media het die regie, kamerawerk en redigering behartig.

“Die storie agter die video is die waardering van wat die Voortrekkers vir ons gelos het en in die video, loop Adam in die spore oor die land om dit te sien en dan eindig hy by ’n monument van erkenning,” voeg hy by. 

Kyk die musiekvideo hier:

Die lied is deur Johan Vorster, bekende liedjieskrywer, sanger en vervaardiger en sy mede-vennoot, Jacomien de Villiers, van Inhoud Huis Musiek, geskryf.

“Dit is ’n baie groot voorreg vir my om dié lied te sing. Ek is ’n groot voorstaander om jou kinders te leer van die geskiedenis. Jy moet weet waar jy vandaan kom om te weet waarheen jy oppad is. Ek was as kind ook ’n Voortrekker vir ’n paar jaar. Daarom is die voorreg om vandag oor dié jeugorganisasie se 90ste bestaansjaar te sing, nog soveel groter vir my. (Die) Voortrekkers is in jou gegrond,” sê Adam.

Met hierdie lied, bevestig Die Voortrekkers nie net die ononderbroke rol wat dié jeugorganisasie vandag nog speel nie, maar soek ook die verband met die verlede op deur erkenning te gee aan die spore van gister. 

Dr. Danie Langner, Hoofleier van Die Voortrekkers sê die Voortrekkerspore is in die kontoere van die Drakensberg gekerf, eers in 1837 deur die eerste Voortrekkers en daarna in 1968 en 2016 deur moderne Voortrekkers.  “Die lied is toekomsgerig, want ons storie word steeds in Afrika uitgekerf en die toekoms wink vir ons. Die lied bevestig die Voortrekkers se geloofsgrondslag, maar ook die Voortrekkerkarakter soos integriteit (’n Voortrekker se woord is sy eer), dade van durf en diensbaarheid. Dit is die spore wat ons wil los. Die lied roep Voortrekkers op om steeds die Voortrekkerfakkel veilig na môre te dra,” voeg hy by.