FOTO: Verskaf
Thami Hopewell Nkambule is ’n gebore en getoë Pretorianer. Al is sy ma, Selina Nkambule, ’n Swati-vrou, het sy Thami in ’n Afrikaanse skool gesit omdat sy gevoel het hy sal baie meer baatvind om Afrikaans ook te kan praat. Hy en sy jonger boetie, Lunga, het saam met sy ma gewoon by die Declercq-gesin en hulle het hul die taal geleer en gehelp dat hul in Afrikaanse skole kon leer.
Sy passie vir musiek het vlamgevat nadat hy na Eminem se album, Recovery, geluister het op ongeveer 10-jarige ouderdom. Van daardie dag af is hy Hopewell se rolmodel. Hy kan identifiseer met sy musiek, veral op dié album omdat hy vertel dat hy van niks kom nie en met harde werk suksesvol geraak het.
Sy kunstenaarsnaam, iHope, is ’n kombinasie van ‘eye’en hoop. Die letter ‘i’ in sy naam verteenwoordig die woord ‘eye’ en dit was net ’n makliker en meer geskikte vervanging vir Nebula, ‘God se oog’. Dit verteenwoordig hoe God altyd oor hom waak en hom beskerm. Die laaste gedeelte ‘Hope’, is afkomstig van sy naam, Hopewell, wat sy ma gegee het.
Sy uiteindelike doelwit is om die hele Afrikaanse Rap genre te verander. Alhoewel hierdie genre reeds goed in Afrikaans verteenwoordig word, glo Hopewell daar is spasie vir heelwat diversiteit, aangesien daar meestal oor partytjies gerap word en nie oor liefde of gebroke harte nie. Dus is elke liedjie ’n bietjie rap met ’n EDM ritme en dit is tyd vir ’n nuwe baadjie.
Tot op hede het iHope drie liedjies vrygestel, ‘Messages of Hope ft Anika’, ‘Sticks & Stones’, ‘Vat ’n Kans’ en dan die nuwe Afrikaanse enkelsnitvrystelling, Countdown. Dié snit is geskryf en vervaardig deur Vaughan Gardiner. Hopewell is baie trots om saam met Rex van Deventer, Vaughan Gardiner en Sean Manley aan hierdie enkelsnit te kon werk. Vaughan is op sigself ’n uiters talentvolle, bekende en gewilde sanger en skrywer wat al vele liedjies geskryf het vir van ons land se bekendste kunstenaars.
Vaughan vertel nadat Rex van Deventer hom gekontak het om ’n enkelsnit vir Hopewell te skryf en te vervaardig, het sy eerlikheid, energie en ‘vibe’ hom dadelik aangeraak.
Daar is besluit op ’n rap rigting, maar wel anders as die rap wat tans in die Afrikaanse musiekindustrie is. Hulle keuse was iets positief en opbouend wat pas by Hopewell se borrelende persoonlikheid en Countdown was die eindresultaat. Die liedjie het ’n positiewe boodskap en handel oor ons as mense wat introspeksie moet doen en ons as mens moet besef waarvoor ons alles kan dankbaar wees deur/na die moeilike tye. Dit is ’n opgewekte liedjie met ’n partytjie-ondertoon en lirieke wat sê: “Hierdie is ons Countdown na dit wat tel.” “Dit wat tel is al daardie dinge waarvoor ons kan dankbaar wees asook wat ons vir ander kan beteken.”
- Countdown is al reeds vanaf 10 Maart 2021 op alle digitale platforms beskikbaar.
- iHope is ’n trotse LimeLight Celebrity kunstenaar. Bemarking en digitale verspreiding word deur LimeLight Celebrity behartig.