FOTO: Verskaf
“Dis ’n regte vuur-en-vlam tipe liedjie.” Só beskryf Riaan Benadé sy nuwe enkelsnit, Spontaan, wat onlangs radiogolwe en digitale stroomdienste op horings geneem het.
Spontaan, wat ook die titelsnit van Riaan se debuutalbum is, het hierdie begaafde liedjieskrywer sowat drie weke geneem om te skryf. “Nadat Paulo Azevedo my bewus gemaak het van ’n ander liedjie op die internet het ek aan Spontaan begin skaaf en skuur.”
“As ons in verhoudings partykeer in gaan, wat baie vuur en vlamig is, maak dit net sin dat die goed gaan afbrand – want niks is veronderstel om vir só lank te hou nie – veral nie teen sulke pas nie,” verduidelik Riaan.
’n Musiekvideo vir die liedjie is ook onlangs vrygestel. En in dié musiekvideo, wat net buite Nylstroom – duskant Kranskop op pad Marble Hall toe – afspeel, word effekte soos vuur ingespan om die liedjie se konsep te versterk.
Die pragtige musikant Cara Frew van Johannesburg speel ook teenoor Riaan in die musiekvideo. “Ek het haar so twee dae voordat ons die video geskiet het by die Coleske-ateljee ontmoet,” vertel Riaan.
“Ons het toevallig iemand nodig gehad vir die video en ons het dadelik van haar ‘look’ en ‘vibe’ gehou. En toe ons haar vra, het sy dadelik ingestem!”
Kyk die musiekvideo hier:
Alhoewel die verhouding in die musiekvideo se vuur geblus is, brand die vuur vir Spontaan nog sterk. Dié enkelsnit, album en die musiekvideo het onlangs gelyktydig die nommer een posisie op Apple Music beklee…
“Ek is regtig trots daarop. Dis iets wat ek in my wildste drome nie gedink gaan gebeur met ’n debuut kunstenaar en -album nie. Ek is regtig baie dankbaar.”
Vra jy vir Riaan watter boodskap van dank hy vir sy luisteraar het, antwoord hy dadelik: “Well ouens just keep listening to my music. Ek waardeer dit so baie dat julle my musiek so geniet. Dit is altyd ’n riem onder die hart om te hoor hoe opgewonde julle is om my te hoor sing. Ek kan nie vir julle genoeg dankie sê nie en ek hoop ek maak julle trots deur die optredes wat julle kom kyk en die tye wat julle saam met my het.”
- Riaan Benadé se debuutalbum Spontaan is nou op stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en JOOX beskikbaar.