Jack en June gereed om die Afrikaanse musiekbedryf op horings te neem!

FOTO: Verskaf

Die man-en-vrou-duo Jacqueline Token en Peter Hoven wat as die groep Jack & June bekendstaan gaan eersdaags in Afrikaans sing. 

Dié groep wat in 2016 gestig is en afkomstig is van Stellenbosch het in Engels begin optree, maar is slaggereed om die Afrikaanse musiekbedryf op horings te neem.  

Die eerste enkelsnit uit hul pen, Steek ons liefde aan die brand, is vanaf vandag op digitale musiekplatforms beskikbaar. Met hul musiek vertel hulle stories van die lewe en getroude lewe – sonder om doekies om te draai. 

“Ons het die liedjie geskryf omdat die huwelik harde werk is en ’n daaglikse besluit is om die beste vir mekaar te wees. Dit is ’n kombinasie van klein goedjies, goed of sleg, wat die einde bepaal en wie jy is vir daai een persoon. Liefde is ’n kyk, ’n soen in jou lyf. Eenvoudig pure eerlikheid en aksies,” het hulle gesê.

Die unieke liedjie gaan praat met jou siel, jou beter laat voel en beslis vas sit in jou kop. Met ’n mengsel van internasionale Country, unieke stemme, lirieke en passie, gaan hierdie liedjie beslis Jack & June se stempel afdruk in die musiekbedryf.

  • Die liedjie is nou op digitale musiekplatforms beskikbaar.