FOTO: Verskaf
Jeanette Pretorius, wat die goue stem van die bekroonde groep Heuning is, het nou ook haar toetrede tot die Afrikaanse kindermusiekmark gemaak. En dit blyk nou asof dié sangeres haar nis gevind het, want die singende Bee-Bee (natuurlik is dit ’n bytjie, want Jeanette en heuning is sinoniem) is een van die oulikste karakters sedert Carike Keuzenkamp vir Ghoempie en Ghoeghoe geskep het.
Die eerste enkelsnit waarin Bee-Bee haarself aan die kinders voorstel, Bee-Bee die By, is pas vrygestel. Die musiek is baie modern en het ’n polsende ritme. Die lirieke is eenvoudig genoeg vir die “maatjies” om dit vinnig en maklik te leer. Boonop help Bee- Bee ook die kinders om op ’n prettige manier konsepte soos vorms en kleure te leer ken en dit te verstaan.
Jeanette het ook al die liedjies op die Self Lees- en Luisterreeks gesing en haar stem pas dié karaktertjie so goed soos wat stuifmeel by ’n blom pas. Kinders gaan onmiddellik haar stem herken. Wat dié enkelsnit ook so spesiaal maak is die feit dat sy haar eie dogtertjie, Megan, as agtergrondstem ingespan het. En juis om dié rede maak dit die liedjie so kindervriendelik. Kinders hoor nie net ’n “tannie se stem” nie, maar ook die van hul maatjies.
Bee-Bee is ook ’n grendeltydperkskepping. “Ek moes my dogtertjie met haar Graad R-huiswerk help. Ek het besef dat daar ’n groot behoefte aan opvoedkundige kindermusiek met ’n lekker ritme en kommersiële klank.”
Volgens Jeanette het sy ’n bytjie as karakter gekies omdat bye ’n belangrike rol in die natuur speel. “Kinders is gewoonlik bang vir insekte en ek wou graag daardie persepsie verander deur middel van die bytjie. Omdat die liedjies ook opvoedkundig is, het ek besluit om ’n sterk karakter, wat ook ’n waardevolle bydrae tot die samelewing lewer, te skep,” vertel sy.
Sy erken laggend dat Bee-Bee ’n uitvloeisel van haar gunsteling karakter uit die tagtigs, Maja die By, was. “Maja was ’n sterk karakter uit my kinderdae en het ’n groot invloed op my ontwikkeling gehad. Bee-Bee is ’n moderner weergawe van Maja.
“Bee-Bee verstaan die kompleksiteit van ’n kinderhart, hoewel die ou bytjie self net agt jaar oud is. Sy is egter baie, baie slim vir haar ouderdom.”
Bee-Bee is reeds besig om ’n super-duper gewilde byster in die kindermark te word en Jeanette het groot planne vir Bee-Bee se musikale toekoms. Sy het al ’n hele paar liedjies vir Bee-Bee geskryf en dié twee is gereed om by kleuterskole, feeste en kermisse te gaan kuier. Jeanette beoog om ook binnekort die liedjies in Engels en Zulu vry te stel.
Bee-Bee se musiek is digitaal beskikbaar en kan afgelaai word by www.bee-beedieby.co.za.