FOTO: Verskaf
Francois Jacobs werk al vir vyftien jaar lank hard om vir homself naam te maak in die musiekbedryf. Sy derde enkelsnit, Kan Nie Meer Wag, is pas uitgereik en beloof om harte van dansliefhebbers, regoor die land, te verower.
Kan Nie Meer Wag, uit die pen van Emil Struwig, kan beskryf word as ’n voetjeuklekker, langarm, Afrikaanse sokkiesnit. Dié treffer is die perfekte pasmaat vir sy diep strelende stem en is beslis iets waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind.
“Die liedjie gaan daaroor om iemand se hart te wen – om met alles binne jou te baklei om daardie persoon te oortuig dat julle vir mekaar bedoel is en nie moet opgee nie,” vertel die sanger. “Ek wou al lankal iets uitbring wat mense gaan laat dans en goed voel. Liefdesliedjies kan soms te veel raak, maar ek wou hierdie een laat blom met ’n positiewe gevoel en uitsig dat daar vir ons almal iemand in die lewe is, ongeag van jou verlede.”
Die snit spog met ’n onweerstaanbare ritme, wat luiseraars onwillekeurig na die dansvloer sal laat stroom. Alhoewel die onderliggende tema ernstig is, bly die boodskap inspirerend en is dit die perfekte keuse vir iemand wat lus is om die aand te geniet en van hulle sorge te vergeet.
“Al het ek dit nie self geskryf nie, het die liedjie van die begin af met my gepraat. Ek het self ook al baie iemand se hart probeer wen het sonder sukses. Ek wil graag hê dat almal wat hierna luister moet onthou dat daar wel iemand daar buite is wat vir jou wat wag en uitsien daarna om deel te wees van jou lewe, ongeag van die seer en slegte verhoudings waarin jy al was,” sê hy.
Kan Nie Meer Wag volg in die suksesvolle voetspore van sy vorige enkelsnitte, Voel Hoe Ek Bewe en 10 000 Woorde, wat albei baie goed ontvang is en nommer een was op Bosveld Stereo se Afrikaanse Top 20.
Luister na ’n voorskou hier:
Francois meen dat musiek nog altyd deel was van sy DNS en dat hy kon sing nog voordat hy kon praat. Hy is die jongste van sewe kinders en het dit nog altyd geniet om sy familie, wat almal self baie musikaal is, en vriende te vermaak.
Die kunstenaar beskryf sy musiekstyl as energiek, stylvol en altyd vol gevoel en liefde en meen dat hy inspirasie put vir sy liedjies uit sy eie en ander mense se lewenservaringe en emosies. Oor die jare het hy ’n gereelde gesig geword by funksies en feeste regoor die land, insluitend Aardklop, KKNK, Innibos en vele meer.
Francois geniet ’n wye verskeidenheid musieksoorte en genres, maar sonder Elvis Presley uit as sy grootste inspirasie. Hy sal ook eendag graag saam met Monique Steyn wou werk as hy die geleentheid sou kry.
Die musiekbedryf het hom oor die afgelope paar geleer om in homself te glo, nie op te gee op sy droom nie en kritiek in ’n positiewe lig te sien. Hy het nog baie planne vir die toekoms en werk tans aan sy volgende enkelsnit en musiekvideo.
Francois Jacobs het ’n hoendervleismooi stem, met klassieke elemente, wat uniek is in ’n genre wat soms baie gewoon kan wees. Kan Nie Meer Wag is die perfekte kombinasie van saamsing-lirieke en ’n aanloklike deuntjie, wat sy stem nie net goed laat vertoon nie, maar luisteraars ook uitnooi om saam te dans en vrolik te wees.