FOTO: Verskaf
Rudi Claase is ’n bekende en bekroonde Suid-Afrikaanse musikant en liedjieskrywer, met talle treffers op sy kerfstok.
Dié talentvolle ster het nog altyd die kuns verstaan om met mense se harte te laat praat en met sy nuutste enkelsnit, Woordeloos, bewys hy net weereens hoekom sy musiek – na twintig jaar in die bedryf – steeds so gewild is.
“Woordeloos is vir my baie spesiaal. Dit is ’n metafoor vir verlore liefde. Persoonlik voel ek ook dat ek myself oor die afgelope paar jaar verloor het en die tema van die lied sluit hierby aan,” verduidelik die sanger oor dié pop-rock juweel uit sy eie pen. “Dit het gevoel asof my stem in donkerte probeer dans en ek nou eers myself gevind het. Ek is nie meer bang om die waarheid te praat nie. Ek het letterlik myself woordeloos gelaat te midde van ’n angswekkende noodsaaklikheid om uiting te gee aan my emosies. Ek hoop dat mense dit ook as meer as ’n liefdeslied sal ontvang.”
Die snit is die eerste nuwe vrystelling vanaf sy album, Liedjieskrywer, en volg in die voetspore van sy vorige enkelsnit, Seile, wat baie goed ontvang is en bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier het.
’n Musiekvideo van die liedjie sal ook binnekort op die kassie te sien wees. Dit is in Photo Factory se geboue en tuine verfilm deur Picture Perfect Centurion en stel die verlore Rudi as ’n persoon voor. “Die konsep draai om oomblikke van pure geluk en liefde, wat onderbreek word deur bevraagtekenbare verlies en ’n soektog na iets of iemand. Die pallet wissel van sagte wit- en blou beelde tot donker, skerp en intense rame, waar ek myself totaal oorgee aan die musiek,” verklap hy. “Ek het saam met ’n ongelooflike span mense gewerk wat presies verstaan het wat ek probeer sê.”
Rudi het in Vereeniging groot geword en was van ’n jong ouderdom af versot op musiek. Hy was maar vier toe hy homself begin leer het om klavier te speel en het regdeur sy skoolloopbaan aan konserte en kompetisies deelgeneem, ten spyte van talle persoonlike uitdagings.
Alhoewel hy uit die staanspoor naam gemaak het as musikant en liedjieskrywer, het hy eers in 2009 amptelik ’n huishoudelike naam geword as deel van die duo, Ons Lieflinge, saam met Corlea Botha.
Na twee dekades in die musiekbedryf, het hy ’n indrukwekkende CV – vol hoogtepunte – opgebou wat vier Huisgenoot Tempo’s, vier Ghoemas, drie Vonk-toekenning, ’n ATKV-Afrikoon en ’n VCR-toekenning insluit, asook ’n goue (Die Engele Sing) en twee dubbel-platinum albums (Ons Lieflinge, Drome) en ’n dubbel-platinum DVD (In Konsert). Hy is ook onlangs benoem vir drie Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings vir Beste Manlike Kunstenaar, Beste Liedjieskrywer en Enkelsnit van die Jaar. Die wenners gaan tydens ’n glansgeleentheid aangekondig word op 28 April 2021.
Verder het hy ook al musiek geskryf vir talle groot kunstenaars, soos Juanita du Plessis, Theuns Jordaan, Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Nádine, Arno Jordaan en vele ander. Die Nederlandse ster, Belinda Kinnaer, het ook sy liedjie, Sewe Oseane, na Nederlands vertaal en dit was ’n groot treffer oorsee.
Die sanger het ’n baie diverse musieksmaak en meen dat klassieke legendes, soos Mozart, die grootste invloed gehad het op sy eie musiekstyl. Hy sal nog graag eendag vir Amanda Strydom ’n liedjie wou skryf en deel dat hy graag ’n sielkundige sou wou wees as hy nie kon sing nie.
Oor die jare het die musiekbedryf hom geleer om nie werk met vriendskap te verwar nie en om nie bang te wees om sy waarheid met die wêreld te deel nie.
“Musiek is my lewe en alles wat ek voel vorm ’n melodie in my binneste. As jongman, was ek eintlik baie skaam, maar musiek was nog altyd die sole onder my voete. Dit is nog altyd vir my ’n groot eer om die geleentheid te hê om my waarheid met mense te deel op die verhoog en te sien hoe dit mense raak. Ek dank elke dag my Skepper vir die voorreg om op so ’n wyse ’n verskil te maak,” sluit hy af.